Update
OUDTSHOORN NUUS - Die konsepbegroting van Oudtshoorn is vanoggend midde luide teenkanting van opposisiepartye tydens 'n spesiale raadsvergadering ter tafel gelê.
Dit beteken dat die burgemeester se voorstel dat die administratiewe proses en publieke deelname proses om die begroting voor 30 Junie goed te keur, nou begin het.
Aanvanklik was die vergadering onderbreek toe die hoofswepe van al die partye (ANC, Icosa, EFF, Sarco en DA) vir 'n koukusbreuk gevra het.
Na afloop van die breuk het Jevan Juthe van Sarco die speaker meegedeel dat die raadslede nie die begroting wil hanteer voordat twee kwessies opgeklaar is nie.
Eerstens wou hulle by die speaker hoor waarom daar sedert 28 Februarie nie 'n raadsvergadering was nie. Tweedens eis hulle dat die burgemeester moet verduidelik wat die aard en omvan is van die kriminele klagtes wat hy twee weke gelede teen 'n amptenaar gelê het.
Die speaker, Julia le Roux het geweier om die punte toe te laat en die burgemeester het midde luide teenkanting en onderbrekings deur verskeie raadslede sy voorstel gemaak dat die begroting ter tafel gelê word sodat die proses kan begin.
Die burgemeester, Colan Sylvester, wag om sy voorstel oor die begroting te maak.
Nadat sy voorstel gesekondeer is deur 'n DA raadslid het die vergadering verdaag.
Vlancio Donson het kapsie gemaak dat die spekaer nie gevra het vir 'n teenvoorstel nie, maar volgens haar is 'n teenoorstel nie nodig wanneer die begroting ter tafel gelê word nie.
Openbare deelname-vergaderings vind volgende week op verskillende plekke plaas waar inwoners instette oor die begroting kan lewer.
Die publieke deelnameproses was een van die punte waaroor opposisiepartye ook gekla het aangesien hulle voel dat dit te vinnig geskied en inwoners nie genoegsame kennis van die vergaderings ontvang het nie.
Raadslid Vlancio Donson (Icosa) in 'n woordewisseling met die speaker.
Lees 'n vorige artikel: Raadslede soek redes
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'