OUDTSHOORN NUUS - Die verhoor van vyf mans van Bridgton op Oudtshoorn wat daarvan aangekla word dat hulle by 'n slaghuis ingebreek en toerusting van derduisende rande, kontant en vleisprodukte gesteel het, is Vrydag in die Oudtshoorn-streekhof vir verdere getuienis uitgestel.
Marco van Hansen (18), Ruan Prins (27), Romano Sass (23), Freek de Jongh (41) en Patrick Meyer (21) staan tereg op aanklagte van huisbraak met die opset om te steel en diefstal. Almal pleit onskuldig.
Die staat beweer dat hulle op 2 Julie 2018 by die slaghuis, Watson & Seuns, in Dassieweg ingebreek en onder andere, 'n kluis met R25 000 kontant daarin, rekenaars ter waarde van sowat R60 000, 'n kamerastelsel, koffiemasjien en 'n groot aantal vleisprodukte van die eienaar, Ewald Watson, gesteel het.
Die saak is, na die getuienis van 'n werknemer, Pearly Winstor, deur streeklanddros Ntsoki Moni tot 5 Julie uitgestel.
Winstor het getuig dat sy Watson gebel het toe sy die Maandagoggend by die besigheid aangekom en die deure oop gesien het.
Sy het later die dag vir De Jongh met 'n swart sak op sy rug agtervolg en by 'n winkel daar naby gesien waar hy Weense worsies aan die eienaar wou verkoop.
Volgens De Jongh se regsverteenwoordiger, Wenzel Botha, sal hy erken dat hy in die winkel was en die sak by ene Adriaan le Roux gekry het.
Sass en Meyer word aangehou terwyl die borgtog van Ruan Prins en Freek de Jongh verleng is.
Van Hansen is op waarskuwing. Die saak dien voor streeklanddros Ntsoki Moni.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'