Update
OUDTSHOORN NUUS - Vriende en familie van Fanklin Timmie, wat die afgelope naweek in 'n brand dood is, het talle vrae rakende wat presies die dag van sy dood gebeur het.
Die 22-jarige man het Vrydag by vriende gekuier en het ook in die opslaanhut waar hulle gekuier het oorgeslaap.
Die hut het Saterdagoggend aan die brand geraak, maar hy kon nie sy weg vinnig genoeg na buite vind nie en het ernstige brandwonde opgedoen.
Hy het Saterdagmiddag in die hospitaal aan sy beserings beswyk.
Volgens Timmie se tannie, Maria Timmie, waar hy gewoon het, het die brand naby hulle huis in Rosebank gebeur.
"Hy het Vrydagaand by vriende gekuier en het daar oorgeslaap. Saterdagoggend voor 06:00 het vriende van hom my kom haal en gesê ek moet kom kyk, Franklin het in 'n brand seergekry. Ek het aanvanklik verstaan dat hy net aan sy arm gebrand het, maar toe ek hom sien het ek net gehuil. Die vel was los en van sy lyf af gebrand. Dit was vreeslik om hom in so 'n toestand te sien. Hy het met my probeer praat, maar hy kon nie."
Volgens Chamilen Matroos, die vriend by wie hy gekuier het, en ook in die hut was, is hulle nie seker presies hoe die brand ontstaan het nie.
"Ek het wakker geword omdat Franklin my wakker gemaak het en gesê het dit brand. Ons ander vriende wat ook daar was het ook wakker geword en ons het na buite gehardloop. Ek het gedink hy is reg agter ons, maar toe ek omdraai toe hardloop Franklin onder vlamme uit die hut uit. Ek het geen idee wat gebeur het nie."
Niemand anders is in die voorval beseer nie.
Riza Konstabel, Timmie se vriendin van bykans ses jaar, sê sy het Vrydag saam met hom en sy vriende gekuier.
"Ons het die aand by die taverne gekuier en toe later na Chamilen se huis gegaan. Ons was so sewe mense wat in die hut geslaap het. Ek en Franklin het in die agterste vertrek gelê. Die son het net begin opkom toe ek vir hom sê dat ek huis toe gaan omdat ek vir my ma moet dorp toe gaan en hy het gesê dat hy my later sal sien. Net 'n entjie af in die straat het ek omgedraai en toe sien ek die rook. Ek het teruggehardloop en gesien die vlamme kom al by die deur uit. Ek was so deurmekaar en het net vir Franklin gesoek toe sien ek hy is nog in die huis. Hy het probeer uitkom en ek het hom aan sy arm gegryp. Die vel het losgekom en my hand het gegly. Ek het sy hand gegryp en hom toe verder uitgetrek en met hom tot op die sypaadjie geloop. Dit was vreeslik om hom so te sien. Hy het vir my gesê hy dink nie hy gaan dit maak nie, en kon daarna nie weer 'n woord sê nie."
Konstabel sê sy verstaan nie hoekom hy die enigste een is wat sulke erge brandwonde opgedoen het nie en sy weet ook nie hoe die brand ontstaan het nie.
Sy sê hy was geliefd onder baie mense en het lank as trolliewag by Pick n Pay gewerk.
"Almal het van hom gehou. Hy was 'n rustige mens wat nooit lelik was met ander mense nie. Hy het nie eens van baklei gehou nie."
Sersant Gretchen Micheals, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, het gesê dat hulle wel kan bevestig dat Timmie in die hospitaal aan sy beserings beswyk het, maar dat hulle geen ander besonderhede rondom die voorval het nie.
Dit is ook nie duidelik hoe die brand ontstaan het nie.
Franklin Timmie
Vorige artikel: 22-Jarige sterf in brand
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'