OUDTSHOORN NUUS - 'n 22-Jarige man wat by vriende gekuier het, is die afgelope naweek dood na die opslaanhut waarin hulle geslaap het afgebrand het.
Volgens Franklin Timmie se tannie by wie hy gewoon het, Maria Timmie, het die brand in dieselfde pad in Rosebank gebeur as waar hy gewoon het.
"Hy het Vrydagaand by vriende gekuier en het daar oorgeslaap. Sateroggend voor 06:00 het vriende van hom my kom haal en gesê ek moet kom kyk, Franklin het in 'n brand seergekry. Ek het aanvanklik verstaan dat hy net aan sy arm gebrand het, maar toe ek hom sien het ek net gehuil. Die vel was los van sy lyf af gebrand. Dit was vreeslik om hom in so 'n toestand te sien. Hy het met my probeer praat, maar hy kon nie."
Volgens Chamilen Matroos, die vriend by wie hy gekuier het wat ook in die hut was, is hulle nie seker presies hoe die brand gebeur het nie.
"Ek het wakker geword omdat Franklin my wakker gemaak het en gesê het dit brand. Ons ander vriende wat ook daar was het ook wakker geword en ons het uit gehardloop. Ek het gedink hy is reg agter ons, maar toe ek omdraai toe hardloop Franklin onder vlamme uit die hut uit. Ek het geen idee wat gebeur het nie."
Niemand anders is in die voorval beseer nie.
Sersant Gretchen Micheals, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, het gesê dat hulle wel kan bevestig dat Timmie in die hospitaal aan sy beserings beswyk het, maar dat hulle geen ander besonderhede rondom die voorval het nie. Dit is ook nie duidelik hoe die brand ontstaan het nie.
Lees die volledige berig in die week se Oudtshoorn Courant.
Die opslaanhut waarin Franklin Timmie was toe die brand ontstaan het. Foto: Liezl van Niekerk
Die opslaanhut waarin Franklin Timmie was toe die brand ontstaan het. Foto: Liezl van Niekerk
'Ons bring jou die nuuste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'