LADISMITH NUUS - Pieter Clink (50) van Ladismith, het 'n ysere wil om dinge gedoen te kry. Toe 'n gedeelte van sy regterbeen in 2024 geamputeer is en hy hoor dat hy moontlik 'n jaar of langer moet wag vir 'n prostese, het sy brein dadelik oortyd begin werk. "Ek het vir myself gesê: 'Ek moet dan vir myself een maak, al is dit net tydelik'," vertel Pieter.
Clink, wat as stoorman in Kaapstad gewerk het, vertel dat hy eendag gevoel het dat sy toon binne sy veiligheidskoen bietjie seer is. "Ek het 'n bloedrooi blaas onder my regtertoon opgemerk, een wat later stukkend geraak het."
Hy het die verpleegsuster by die werk ingelig en hy is toe na die Mitchellsplain-distrikshospitaal verwys.
"Die spesialis het vir my die skokkende nuus gebring dat daar geen bloedsirkulasie in my toon was nie en dat hulle my groot-toon en die toon langs hom onmiddellik moes amputeer. Ek was stomgeslaan en het gevra om my vrou te laat kom voordat die operasie plaasvind."
Hy is ook as diabeet gediagnoseer.
Pieter Clink het sy eie prostese ontwerp. Foto: Deon Meyer
Clink vertel dat selfs na 'n tweede opinie daar geen beter nuus was nie.
Op 26 Oktober 2020 is die twee tone geamputeer. Hy is daarna vir ses maande tydelik ongeskik verklaar en het na Ladismith teruggekeer.
"Hier het ek eendag met Crocs aan my voete in die tuin gewerk toe ek sonder enige waarskuwing opmerk dat my voet ernstig bloei. Ek is hospitaal toe en onmiddellik na die provinsiale hospitaal in George oorgeplaas. Daar is my regtervoet afgesit, maar net 'n dag na die operasie sou ek nog slegter nuus ontvang: twee spesialiste het my meegedeel dat my been onder die knie geamputeer moes word."
In Desember 2024 is sy been gedeeltelik geamputeer. Nadat die stompie herstel het, het Clink met fisioterapie in Ladismith begin. Daar het hy weer geleer om te loop, eers met 'n loopraam en later krukke. Hy wou egter so na aan normaal as moontlik terugkeer en het na 'n kunsbeen verneem. Toe ontdek hy hoe lank dit vir 'n staatspasiënt kan neem om 'n prostese te kry.
Clink het toe self op YouTube en ander materiale vertrou.
"Ek het met veselglas my beenvorm begin maak, die silwer en aluminium van 'n kruk as my skeenbeen gebruik, en my voet uit 'n goeie stuk hout gesny. Dit pas perfek in my voet. Hoewel hy nie met die prostese loop nie, bestuur hy gemaklik self sy bakkie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’