Update
OUDTSHOORN NUUS - Die vonnisoplegging van 'n 25-jarige man van Oudtshoorn, wat skuldig bevind is op drie aanklagte van strafbare manslag, is verlede week in die Oudtshoorn-streekhof vir die soveelste keer uitgestel.
Streeklanddros Ntsoki Moni het Maandag 17 Februarie gesê dit gaan haar verstand te bowe dat 'n proefbeampteverslag meer as ses maande neem om aan die hof voorsien te word.
'n Amptenaar van die departement maatskaplike dienste het die hof, die beskuldigde en die familie van die slagoffers om verskoning gevra vir die vertraging. Volgens haar het sy die e-pos waarin die versoek gerig is misgekyk.
Xavier Arendse het reeds verlede jaar skuldig gepleit en erken dat hy die aand van 13 Julie 2019 die bestuurder was van die Volkswagen Golf waarmee hy en sy vriende vanaf Dysselsdorp onderweg was na Oudtshoorn toe dit omgeslaan het.
Sy drie vriende, Chandré Nortjé, Jacklin Prinsloo en Bertram Michaels is in die ongeluk dood en hy het self ernstige kopbeserings opgedoen en kan nie onthou hoe die ongeluk plaasgevind het nie.
Die saak is finaal vir vonnisverrigtinge tot 19 Maart uitgestel nadat die verslag uiteindelik ingedien is.
Vorige artikels
- Vonnisoplegging sloer steeds
- Motorbestuurder skuldig aan strafbare mansslag
- Derde slagoffer Saterdag begrawe
- Roudiens vir seun wat na ongeluk sterf
- Derde ongelukslagoffer sterf
- Twee sterf, een kritiek
- Oorledenes se identiteit bekend
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’