OUDTSHOORN NUUS - Die vonnisoplegging van 'n 25-jarige man van Oudtshoorn, wat al in Junie 2024 skuldig bevind is op drie aanklagte van strafbare manslag, is Donderdag 23 Januarie weer uitgestel omdat 'n verslag van die maatskaplike werker steeds uitstaande is.
Xavier Arendse is Julie verlede jaar aan strafbare manslag skuldig bevind nadat hy beken het dat hy die aand van 13 Julie 2019 die bestuurder van die Volkswagen Golf was en nalatig die dood van sy drie vriende, Chandré Nortjé, Jacques Prinsloo en Bertram Michaels veroorsaak het.
Hulle was ten tyde van die ongeluk vyf insittendes in die voertuig. Michaels (22) en Prinsloo (26) is op slag dood. Nortjé (18) is ses dae na die ongeluk oorlede.
Arendse en Cassius Ewerts, die ander insittende, was ook in die hospitaal vir hul beserings behandel. Arendse het gesê hy het self ernstige kopbeserings opgedoen en kan nie onthou hoe die ongeluk plaasgevind het nie.
Hulle was die betrokke aand vanaf Dysselsdorp onderweg na Oudtshoorn toe die motor die pad verlaat en gerol het.
Streeklanddros Ntsoki Moni was omgekrap oor die uitstaande verslag wat die afhandeling van die saak vertraag en het gelas dat die betrokke amptenare van die departement maatskaplike ontwikkeling gedagvaar word om op 10 Februarie in die hof te verduidelik wat die vertraging veroorsaak.
Anzelle Loubscher is die aanklaer in die saak terwyl Arendse deur Christo van der Bergh van die firma Coetzee en Van der Bergh Ingelyf verteenwoordig word.
Arendse is op borgtog vrygelaat.
Vorige artikels
- Motorbestuurder skuldig aan strafbare mansslag
- Derde slagoffer Saterdag begrawe
- Roudiens vir seun wat na ongeluk sterf
- Derde ongelukslagoffer sterf
- Twee sterf, een kritiek
- Oorledenes se identiteit bekend
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’