OUDTSHOORN NUUS - Chandré Nortje (18), die derde slagoffer wat na die ongeluk twee weke gelede, op die De Rust-pad gesterf het, word môre begrawe.
Nortjé was saam met vier van sy vriende in 'n Volkswagen Golf toe die voertuig Saterdag 13 Julie met 'n betonmuur langs die pad gebots het. Hulle was van Dysselsdorp na Oudtshoorn onderweg.
Bertrum Michaels en Jacklin Prinsloo is opslag dood.
Nortjé het ses dae later in die George-hospitaal aan sy beserings beswyk.
Xavier Arendse en Cassius Ewerts is steeds in die George-hospitaal.
Nortjé se ma, Charleen, sê hy was 'n stil seun wat respek vir sy vriende en familie gehad het.
"Chandré het 'n groot vriendekring gehad en sy vriende was vir hom belangrik. Hy was pligsgetrou en het mooi maniere gehad. Chandré was veral vir sy twee ooms baie lief gewees en het ongelooflik baie respek vir hulle gehad."
Charleen sê hy was 'n leerder van die Oudtshoorn Vaardigheidskool en hy het baie hard gewerk.
"Hy was mal oor sport, veral sy rugby en was 'n uitblinker op die veld. Chandré was ook mal oor karre en sou vanjaar sy lisensie gekry het. Hy wou vreeslik graag self bestuur."
Charleen sê sy het geen haat teenoor enigiemand in haar hart nie.
"Die huis is stil en ek mis my kind vreeslik baie, maar ek is vir niemand kwaad nie. Ons kan nie met God se planne inmeng nie en om kwaad rond te loop gaan hom definitief nie terugbring nie."
Chandré word Saterdag om 11:00 uit die VGK in Bridgton begrawe. Dit sal voorafgegaan word deur 'n diens om 10:00 by die huis by Carolusstraat 13.
Die motor waarin Chandré Nortje en vier van sy vriende ten tye van die ongeluk was.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'