OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen Francisco Erasmus van George, wat van moord op die 60-jarige Abraham Herandien van Bloupunt, Dysselsdorp, aangekla word, is Vrydag in die Oudtshoorn-streekhof na 'n week lange verhoor vir voortsetting tot 24 April uitgestel.
Die voorlaaste staatsgetuie, Christiaan Mei van Smartie Town, het getuig dat hy baie bang is vir die beskuldigde omdat hy alles sal doen om hom, in sy woorde, "onder die grond te kry".
Hy het ook versoek dat die beskuldigde moet ophou om hom "CJ" te noem omdat dit nie sy naam is nie.
Voorts het hy op 'n vraag van die staats-aanklaer, adv. Michelle Weyers, geantwoord dat hy niks weet van twee groot bedrae, R30 000 en R38 000, wat volgens Erasmus in sy bankrekeninge betaal is nie.
Mei het tydens sy getuienis in die getuiebank heeltyd met sy rug na die beskuldigde gesit.
Volgens Mei het hy nooit vir Erasmus gewerk soos wat die beskuldigde voorgee nie.
Die saak dien voor streeklanddros Ntsoki Moni en Erasmus neem sy eie verdediging waar.
Vorige artikels:
- Vermeende moordenaar verdedig homself
- Borgtog geweier aan vermeende moordenaar
- Herandien-moordsaak vir borgtog uitgestel
- Moordsaak vir borgtog uitgestel
- 12 Steekwonde aan liggaam van oorledene
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’