OUDTSHOORN NUUS - Uitspraak in die bedrogsaak teen Hanje Harmse (49) van Klerksdorp in Gauteng is Donderdag 18 Junie in die Oudtshoorn-streekhof voorbehou en die saak is tot 13 Julie uitgestel.
Harmse staan tereg op aanklagte dat sy haar glo as regsassistent van haar vervreemde man, Dale Harmse, voorgedoen het en hom gehelp het om die Oudtshoorn-sakeman Matthys Slabbert, uit meer as 'n halfmiljoen rand te bedrieg deur sogenaamde regsdienste aan hom te lewer.
Volgens die staat het Dale Harmse hom as 'n advokaat voorgedoen, terwyl hy in werklikheid 'n elektrisiën is.
Die verdediging het sy saak in April vanjaar gesluit nadat die hof 'n aansoek geweier het dat Dale Harmse virtueel getuig. Die saak is daarna vir slotbetoë tot Donderdag 18 Junie uitgestel.
Hofverrigtinge het eers om 14:00 begin nadat Harmse se bus vanaf Klerksdorp weens padwerke laat opgedaag het.
Harmse het tydens haar getuienis volgehou dat sy nie van haar man se beweerde bedrywighede bewus was nie en eers daarvan te hore gekom het nadat die saak aan die lig gekom het. Sy het aangevoer dat sy self vir bykans twintig jaar deur hom gemanipuleer is.
Sy het verder ontken dat sekere inligting in 'n waarskuwingsverklaring deur haar aan die polisie verskaf is. Volgens haar was sy slegs een keer in Oudtshoorn, in Februarie 2020, toe sy saam met Dale Harmse gereis het om 'n bakkie vir 'n vriend af te lewer.
Volgens haar het Dale onderweg aangedui dat hy êrens moes stop en het sy die klaer, Matthys Slabbert, slegs vlugtig ontmoet. Sy het ook ontken dat sy Anja Smit, destyds Slabbert se regterhand, ontmoet het of dat Smit tydens die ontmoeting teenwoordig was.
Harmse het voorts ontken dat dit haar stem is wat op 'n klankopname van Dale Harmse gehoor kan word. Sy het ook die getuienis van die staatsgetuie Emmerenthia Weyngaardt betwis dat sy in Maart 2020 by 'n verdere ontmoeting met Slabbert teenwoordig was.
Dale Harmse het in 2022 skuld beken en is tot 15 jaar gevangenisstraf gevonnis. Hy is egter in November 2023 vrygelaat nadat die hooggeregshof in Pretoria 'n bevel uitgereik het op grond van feite rakende vorige vonnisse wat voor die hof geplaas is.
Harmse se regsverteenwoordiger, Lourens Swanepoel, het die hof versoek om haar onskuldig te bevind en aangevoer dat die staat nie daarin geslaag het om sy saak bo redelike twyfel te bewys nie. Volgens hom is sy kliënt se weergawe redelik moontlik waar.
Die staatsaanklaer, TC Coerecius, het egter aangevoer dat die staat wel sy saak bo redelike twyfel bewys het en dat Harmse skuldig bevind behoort te word. Volgens die staat ondersteun die getuienis van die staatsgetuies mekaar in verskeie opsigte.
Waarnemende landdros Bulelani Bans het uitspraak voorbehou en die saak tot 13 Julie uitgestel. Harmse bly uit op waarskuwing.
Vorige artikels:
- Bedrogsaak teen vrou van Noordwes gaan Augustus voort
- Bedrogsaak teen Gauteng-vrou duur voort
- Verhoor van Hanje Harme in 2025 voortgesit
- Bedrogsaak vir verhoor uitgestel
- Bedrogsaak teen Hanje Harmse in April
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’