Update
OUDTSHOORN NUUS - Die uitgerekte verhoor van nege verdagtes, van wie die meeste buitelanders is, wat teregstaan op aanklag van gewapende roof en menseroof, is verlede week in die Mosselbaai-streekhof weer uitgestel.
Die saak is vir verdere getuienis tot 15 Oktober uitgestel.
Tien verdagtes is aanvanklik in verband met die voorval aangekla, maar beskuldigde nommer een is intussen in die tronk oorlede.
Die beskuldigdes staan tereg nadat die eienaar en werknemers van SWD Groentemark in Oudtshoorn op 22 Oktober 2021 glo met speelgoedvuurwapens gedreig en vasgebind is.
Sowat R30 000 kontant en vyf selfone is tydens die voorval geroof. Die verdagtes is egter nog dieselfde dag naby Prins Albert in hegtenis geneem.
Sers. Shaun Konstabel van Prins Albert het tydens die verhoor getuig oor hoe ’n Quantum-bussie, waarin agt van die verdagtes glo op die vlug geslaan het, buite Prins Albert voorgekeer is.
Hy het getuig dat die verdagtes in hegtenis geneem is en ook bevestig dat die wapens wat tydens die voorval gebruik is, speelgoedvuurwapens was.
Die beskuldigdes word deur Brian Carelse van die plaaslike Regshulpraad verteenwoordig, terwyl ao. Wilfred Apollis die ondersoekbeampte in die saak is.
Vorige artikels:
- Vermeende rowers vertraag saak
- Groentemark- rowersaak weer uitgestel
- Borgtog aan vermeende rowers geweier
- Groentemarksaak uitgestel
- Borgtogsaak van 10 volgende week
- Gewapende rowers binne ure vas
- Vermeende rowers vas
- Nog 'n gewapende roof
- Groentemark-roofsaak uitgestel oor tolk se afwesigheid
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’