OUDTSHOORN NUUS - Die Dysselsdorp-gemeenskap het Donderdag 23 Mei hulde gebring aan die baba wat onlangs op gruwelike wyse in die Asla-woonbuurt aan die brand gesteek is.
Die kranslegging is gehou op die plek waar die swart sak met die baba gevind is, in 'n sloot langs die woonbuurt wat dikwels as stortingsterrein gebruik word.
Die gebrande liggaam van die baba is op 15 Mei ontdek toe kinders wat in die sloot gespeel het op die toneel afgekom het.
Die baba is deur 'n onbekende man aan die brand gesteek nadat sy in 'n sak vol vullis geplaas is. Niemand is tot dusver in hegtenis geneem nie, en die identiteit van die ouers is steeds onbekend.
Die kranslegging, gereël deur Leon Campher, raadslid en stigter van Oudtshoorn Community Against Crime, het talle rolspelers gelok, onder meer lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens, verteenwoordigers van skole, geestelike leiers, die plaaslike kliniek en die ACVV.
Campher het tydens die seremonie beklemtoon dat die baba nie vergeet sal word nie, en het die belangrikheid van bewusmaking rondom tienerswangerskappe, veilige seks en verantwoordelike besluite onderstreep.
Volgens Campher het hy uitgevind dat die voorlopige ondersoek daarop dui dat die baba 'n dogtertjie was wat ongeveer sewe maande in die ma se baarmoeder was. Dit is egter steeds nie duidelik of die baba gelewe het toe sy aan die brand gesteek is nie.
"Ons weet nie wat sy sou word nie. Ons weet nie watter tipe persoonlikheid sy sou gehad het nie of wat haar toekoms vir haar ingehou het nie. Sy het op 'n wrede manier die aarde verlaat en skielik weet niemand wie verantwoordelik is vir die daad nie."
Campher het aan die gemeenskap gesê dat die babadogtertjie nie ouers het nie, maar dat elke persoon teenwoordig haar ouer is.
"Ons staan vandag hier as haar ouers. Ons kom vat verantwoordelikheid vir haar. Al wou haar ouers haar nie hê nie, is ons as gemeenskap hier vir haar. Ons is vandag haar ma en haar pa."
Kapt. ZS Xhanga, stasiebevelvoerder van die Dysselsdorp-polisie, het 'n dringende beroep op die gemeenskap gedoen om enige inligting te deel wat kan help om die saak op te los.
"Die baba het 'n ma, en iemand weet wie sy is. Iemand in die gemeenskap moet iets van die voorval weet. As jy weet en niks sê nie, is jy ook skuldig. Die kind gaan daar wees elke keer as jy jou oë oopmaak, en ook wanneer jy dit toemaak," het sy ernstig gewaarsku.
Die ondersoek duur voort. Sers. Daniel April is die ondersoekbeampte wat aan die saak werk.
Die publiek word versoek om hom te kontak by 079 893 9962 indien hulle enige inligting het.
Fotogalery: Gemeenskap saam in rou vir baba met geen naam nie
Vorige berig
- Gemeenskap moet antwoorde he
- Nog geen arrestasies nadat baba brand nie
- Baba in sak aan die brand gesteek
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’