OUDTSHOORN NUUS - Stilswye heers in Dysselsdorp na die grutoneel verlede week waar iemand 'n baba in 'n swart sak vol vullis aan die brand gesteek het.
Dié grufonds is verlede Donderdag-middag, 15 Mei, deur kinders in die Asla-woonbuurt gemaak. Die voorval het plaasgevind in 'n sloot wat in die veld teen die woonbuurt loop. Niemand is nog in hegtenis geneem nie, en die ma van die kind is ook nie opgespoor nie.
Sersant Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het gesê dat niemand nog in verband met die voorval in hegtenis geneem is nie.
"Die ondersoek na hierdie saak is steeds aan die gang. Die ondersoekbeampte, sers. Daniel April, het die publiek versoek om vorendag te kom met enige inligting wat die polisie kan help om die moeder op te spoor. Enigiemand met inligting kan hom by 079 893 9962 kontak."
Volgens Roseline Kammies, wat reg langs die sloot woon, het sy die middag haar baba se klere in 'n kommetjie by hul woning gewas toe sy sien hoe 'n man 'n swart sak aan die oorkant van die sloot uitskud. "Hier lê klaar hope vullis. Die mense kom dump gereeld gemors hier. Ek het gehoor iets val op die grond, maar nie veel daarvan gedink nie. Ek het gedink dis 'n pop. Ek het verder aangegaan met die wasgoed. Toe steek die man die vullis aan die brand en ek het ingegaan om vir my man te sê hulle brand al weer vullis by die kind se wasgoed. Toe hy uitstap was die man weg. Ons het nie verder aandag gegee aan die situasie nie."
Volgens Kammies kon sy nie die man se gesig sien nie, omdat hy 'n kappie opgehad het.
Sy vertel dat 'n groepie kinders later die middag by die sloot kom speel het, op soek na items vir hulle pophuisie.
"Een van die kinders het die baba gesien en hulle het hul ma geroep. Die ma het toe kom kyk en 'n verpleegster wat verby gestap het gevra of hierdie regtig 'n baba is. Hulle het toe die polisie gekontak."
Volgens 'n ander inwoner, George Meyer, is die gemeenskap geweldig kwaad en geskok oor die voorval.
"Foto's van die baba is rondgestuur en mens kan sien dat dit 'n perfekte, volmaakte baba was. Die kind is in 'n swart sak tussen gewone huishoudelike vullis gegooi. Hoe doen iemand so iets? Hoe kan iemand stilbly oor so iets?"
Leon Campher, raadslid en stigter van Oudtshoorn Community Against Crime, hou vandag, 22 Mei, om 14:00 'n kranslegging vir die baba.
"Terselfdertyd gaan ons ook 'n bewus-makingsveldtog vir tienerswangerskappe, veilige seks en die belangrikheid van regte keuses hou. Ons nooi die gemeenskap, polisie, geestelike leiers en ander rolspelers om deel te wees van die veldtog."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’