DYSSELSDORP NUUS - 'n Gru-toneel het gistermiddag, 15 Mei, die gemeenskap van Dysselsdorp in skok en afgryse gelaat na 'n baba na bewering aan die brand gesteek is.
Volgens inligting wat Oudtshoorn Courant ontvang het, het iemand die baba in 'n kanaal in 'n swartsak aan die brand gesteek.
Dit is nie duidelik wat die baba se geslag was en of die baba reeds dood was toe hy of sy aan die brand gesteek is nie.
Volgens sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, is 'n geregtelike doodsondersoek geopen nadat die liggaam van 'n baba met brandwonde in 'n oop veld naby Asterstraat, Dysselsdorp, gevind is.
Die voorval het ongeveer 16:40 plaasgevind.
"Volgens beskikbare inligting is polisielede van Dysselsdorp na die toneel ontbied. Met hul aankoms het hulle die liggaam gevind. 'n Nadoodse ondersoek sal die oorsaak van die baba se dood bepaal."
Volgens Spies is niemand nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’