Update
OUDTSHOORN NUUS - Die verhoor van nege verdagtes wat van gewapende roof en menseroof aangekla word, is verlede week in die Oudtshoorn-streekhof vir die getuienis van die ondersoekbeampte tot 21 Augustus uitgestel.
Tien verdagtes, waarvan beskuldigde een in die tronk oorlede is, het glo op 22 Oktober 2021 die eienaar en werknemers van SWD Groentemark in Oudtshoorn met speelgoedwapens gedreig, vasgebind en van sowat R30 000 en vyf selfone beroof.
Hulle is egter nog dieselfde dag deur die Prins Albert-polisie in hegtenis geneem.
Sers. Shaun Konstabel van Prins Albert het getuig dat die Quantum-bussie waarmee agt van die verdagtes op die vlug geslaan het in Prins Albert voorgekeer is.
Hy het ook bevestig dat die wapens, speelgoedwapens was.
Gregory Simmers, een van die groentemark se werknemers, het getuig dat twee mans hom vasgegryp, na ’n koelkamer geneem en sy voete en hande vasgebind het.
Die saak dien voor streeklanddros J. Koeries van Mosselbaai en Brandon Smith is die aanklaer.
Al nege verdagtes word deur Brian Carelse van die plaaslike Regshulpraad verteenwoordig en ao. Wilfred Apollis is die ondersoekbeampte.
Vorige artikels:
- Vermeende rowers vertraag saak
- Groentemark- rowersaak weer uitgestel
- Borgtog aan vermeende rowers geweier
- Groentemarksaak uitgestel
- Borgtogsaak van 10 volgende week
- Gewapende rowers binne ure vas
- Vermeende rowers vas
- Nog 'n gewapende roof
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’