OUDTSHOORN NUUS - Hamilton Pharaoh het agt jaar gelede sy dogter, Nicole Cederas, belowe hy sal seker maak sy kry antwoorde oor wat met haar seun gebeur het, en hy het.
Die 9-jarige Josh James Pharaoh, van die Paarl, het in 2017 ernstige kopbeserings opgedoen na hy by 'n weermaguitstalling by die KKNK in 'n Rooikat, 'n gepantserde weermagvoertuig, "geval" het. Hy is na 'n hospitaal in Mosselbaai geneem waar hy twee dae later aan sy beserings beswyk het.
'n Geregtelike doodsondersoek is na die voorval geopen en die uitspraak is Maandag 24 Februarie deur landdros Vaughn Shone gelewer.
Die geregtelike doodsondersoek moes onder andere bepaal wat die oorsaak van Josh se dood was, die datum van sy afsterwe en of sy dood veroorsaak is deur enige handeling of nalatigheid.
Shone het bevind dat daar wel 'n prima facie-saak bestaan en die weermaglid wat in beheer van die demonstrasie was, kpl. Vernon Sarel Adams, verantwoordelik gehou kan word vir die kind se dood.
Hamilton, Josh se oupa, het Maandag gesê: "Dit is God se genade dat daar 'n selfoonvideo was want anders sou dit iemand se woord teen iemand anders s'n gewees het."
Wyle Josh Pharaoh
Gerugte in 2017 was dat Josh soos 'n stout seun sonder toestemming op die Rooikat geklim het terwyl drie offisiere, wat vir die voertuig verantwoordelik was, met die demonstrasie besig was.
"Volgens die video wat die dag geneem is kon daar gesien word hoe Josh op die Rooikat staan met die korporaal wat binne-in staan. Hy het Josh genooi om by hom te staan. Dan sien mens hoe Josh afsak na onder en dit is daar waar hy seergekry het. Die vermoede is dat sy kop iewers vasgedruk het met die draai van die kanon en dat hy so beseer is. Omdat die voertuig nie op daardie stadium 'n bewysstuk was nie, is daar nooit forensiese bewyse ingewin nie, en daarom weet ons nie presies waar in die voertuig hy seergekry het nie. Dit is die bewys dat Josh nie sonder toestemming of sonder toesig by die Rooikat was nie," verduidelik Hamilton.
"Ons het nou berusting gekry en is dankbaar dat elkeen sy deeltjie bygedra het. Ons het gedoen vir Josh wat ons kon en kan nou voortgaan met ons lewens."
Hamilton sê hierdie was vir hulle as familie 'n emosionele proses, maar het beslis gehelp met genesing.
"Dit het baie vir ons verander. Ons leef meer in die oomblik. Ons is liewer vir mekaar. Ons waardeer die klein dingetjies. Ons het gesien môre is nie 'n gegewe vir ons geliefdes nie. Ons het gekom met Josh en gery sonder hom. Dit klink onwerklik, maar op daardie dag het als vir ons verander. Ons het nou meer vrede omdat ons weet wat gebeur het."
Hamilton sê hy hoop dat hierdie ander se oë sal oopmaak en ook die fokus sal plaas op veiligheidsmaatreëls by sulke geleenthede.
Die uitspraak
Volgens Shone was die korporaal die eerste getuie. Van die aspekte wat na vore gekom het was die feit dat niemand anders in die Rooikat was nie. Hy het ook aangevoer dat hy nie geweet het hoe Josh binne die Rooikat beland het nie. Volgens hom was niemand in die voertuig toegelaat nie en het hy ook niemand genooi nie.
Daar is ook getuienis gelewer deur drie ander persone wat net gehandel het oor Josh wat binne die voertuig gevind is.
Courtney Ewerts het getuig oor die twee video's wat van die dag geneem is. Hierdie video's was deurslaggewend in die aanduiding van die gebeure voor die ongeluk. Volgens die getuienis van Kyle April, onder wie se toesig Josh die betrokke dag was, het die korporaal Josh gevra om saam met hom in te klim. Hy het ook getuig dat geen veiligheidsinligtingsessie vooraf gegee is nie.
Shone het tydens sy uitspraak ook gesê dat enige insinuasie dat April vir Josh se dood verantwoordelik is, is misplaas.
"Dit is natuurlik dat enige ouer of toesighouer die persoon in beheer van so 'n uitstalling sal vertrou."
Die pad vorentoe
Volgens Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, sal die rekord van die formele geregtelike doodsondersoek aan die kantoor van die direkteur van openbare vervolging voorgehou word, wat 'n besluit moet neem of die korporaal krimineel van strafbare manslag aangekla gaan word. Dit beteken dus dat korporaal Adams nog aan geen misdryf skuldig bevind is nie.
Vorige artikels
- Opvoering om beurs vir Oudtshoorn kinders te stig
- Optog vir Josh Pharaoh
- Optog van Pharaoh-familie
- Adopt a star show reuse sukses
- Geen antwoorde na 9-jarige se dood
- Familie hou optog vir Josh
- Familie vra tyd om Josh te begrawe
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’