Gallery
OUDTSHOORN NUUS - Familie van Josh Pharaoh, die 9-jarige seun wat in 2017 tydens die KKNK by die weermag se uitstalling ernstig beseer is en twee dae later gesterf het, het vandag weer ‘n plakkaatoptog voor Baron van Reedestraat gehou.
Josh se oupa, Hamilton Pharaoh, het ‘n skrywe uitgelees waarin daar genoem word dat die “KKNK-direksie ‘n verantwoordelikheid het om Josh te erken as deel van hul geskiedenis”.
Volgens die skrywe weier die Suid-Afrikaanse Weermag steeds om hul samewerking ten opsigte van die ondersoek in Josh se dood te gee en moes die polisie hul tot die hof wend om verklarings van die weermag te bekom.
Pharaoh het gesê dat Josh daardie betrokke dag nie alleen op weermagvoertuig geklim het nie en dat hy deur ‘n lid van die weermag genooi is om die tenk van binne te besigtig. Die betrokke offisier moet dus weet wat die dag van Josh se ongeluk gebeur het.
Hy het gesê die familie sal saamstaan tot die omstandighede rondom Josh se dood reg ondersoek is.
Na die skrywe uitgelees is, het die familie blomme by die steen, wat hul ter herdenking van Josh langs die rivier in St. Johnstraat geplaas het, gaan neerlê.
Lees 'n vorigte artikel: Familie hou optog vir Josh
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Karoo nuus'