Gallery Video
OUDTSHOORN NUUS EN VIDEO - Familie van Josh Pharaoh, die 9-jarige seun wat verlede jaar tydens die KKNK by die weermag se uitstalling ernstig beseer is en twee dae later gesterf het, het vandag 'n optog na die weermag se uitstalling by vanjaar se KKNK gehou.
Josh se oupa, Hamilton Pharaoh, het in die memorandum wat hy uitgelees het gesê al wat die familie soek is geregtigheid na Josh se dood.
"Toe ons kind verlede jaar gesterf het, het mense hom soos 'n ongemanierde, stout kind laat klink. Ons as familie wil dit duidelik stel dat Josh 'n gehoorsame kind was en nooit op sy eie in daardie voertuig sou klim nie. Ons wil dit duidelik stel dat daar 'n weermag offisier by Josh was tydens die voorval."
Pharaoh het verder gesê dat die feit dat die uitstalling steeds voort gaan vir die familie disrespekvol is.
"Die weermag het dit vir die polisie moeilik gemaak om die ondersoek te voltooi en ons het nog geen duidelikheid oor wat presies Josh se dood veroorsaak het nie. Die feit dat hulle die uitstalling die jaar weer hou laat ons voel asof die weermag geen gevoel vir ons familie se verlies het nie."
Pharaoh het gesê hy hoop nie dat enige familie ooit deur dieselfde trauma moet gaan as wat hulle het nie. Oudtshoorn se burgemeester, Colan Sylvester, was by tydens die voorlees van die memorandum. Die famlilie het vanaf die CP Nel museum na die weermag se uitstalling gegaan om 'n gebed te doen, maar die weermag het die uitstalling tydelik gesluit om te vehoed dat die familie op die terrein kom. Hulle het voor die hek byeengekom om 'n gebed te doen.
Kyk 'n video hieronder.
Hamilton Pharaoh lees die memorandum aan die media voor. Links van hom is burgemeester Colan Sylvester en Pharaoh se vrou, Haidee. Foto's: Liezl van Niekerk
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'