OUDTSHOORN NUUS - Die 37-jarige André Solomons van Bongolethu in Oudtshoorn is Vrydag 29 Mei in die Oudtshoorn-streekhof tot altesaam 25 jaar tronkstraf gevonnis vir die moord op sy saamleefmaat, Audrey Ntombozuku, asook aanranding en verset teen arrestasie.
Solomons het Ntombozuku op 15 April 2017 vermoor deur haar herhaaldelik met ’n klip teen die kop te slaan. Hy het daarna haar liggaam in ’n swart sak geplaas en na ’n nabygeleë kanaal gesleep.
Hy is ook skuldig bevind aan die aanranding van ’n polisiebeampte, sers. Randall Fouché, en dat hy hom teen arrestasie verset het.
Solomons het tydens die verhoor onskuldig gepleit. Hy het ook ontken dat hy die aand van die moord in die kanaal was waar Ntombozuku se liggaam gevind is.
Dit ondanks die getuienis van drie staatsgetuies wat hom by die liggaam van die oorledene in die kanaal gesien het.
Hy het ook ontken dat hy Fouché aangerand en hom teen arrestasie verset het. Ná sy skuldigbevinding het hy geen getuienis ter strafversagting aangebied nie.
Die staatsaanklaer, Nadia Arnolds, het die hof versoek om nie van die voorgeskrewe minimum vonnis van 15 jaar vir moord af te wyk nie en het gevra dat Solomons tot 20 jaar tronkstraf gevonnis word.
Volgens dr. Christa Hattingh, ’n spesialis-forensiese patoloog, was die beserings aan Ntombozuku se liggaam soortgelyk aan dié van iemand wat in ’n ernstige motorongeluk betrokke was.
Arnolds het aangevoer dat Solomons se optrede barbaars was en dat hy geen berou vir sy dade toon nie.
“Die hof moet ook die impak van die moord op die slagoffer se familie in ag neem, veral op haar moeder, Joyce Modikwe. Die pyn is steeds daar,” het sy gesê.
Streeklanddros Daniel Boks het tydens vonnisoplegging gesê Solomons het geen respek vir menselewe getoon nie en dat die hof ’n duidelike boodskap moet uitstuur dat sulke geweld nie geduld sal word nie.
“Die beskuldigde toon geen berou nie en dit is duidelik dat hy ’n gevaar vir die gemeenskap inhou. Geweld teen vroue het kommerwekkende vlakke bereik en die tyd het aangebreek dat howe swaarder vonnisse oplê om veiliger gemeenskappe te help skep. Die groot hartseer bly egter dat geen vonnis die oorledene sal terugbring nie,” het Boks gesê.
Solomons is tot 20 jaar tronkstraf vir moord gevonnis en ’n verdere vyf jaar vir aanranding en verset teen arrestasie, wat sy totale vonnis op 25 jaar te staan bring.
Joyce Modikwe, die moeder van die oorledene, het ná afloop van die verrigtinge gesê sy is dankbaar vir die uitkoms van die saak.
“Ons het uiteindelik berusting gevind,” het sy gesê.
Vorige artikels:
- Getuie gesoek in moordsaak van sewe jaar gelede
- Moordsaak na sewe jaar nog nie afgehandel nie
- Kanaal-moordsaak van hofrol verwyder
- Vrou wreed vermoor: Borgtog geweier
- Vrou wreed vermoor: Borgtogaansoek uitgestel
- Opvolg: Vrou wreed vermoor
- Opvolg: Vrou wreed in kanaal vermoor
- 34-Jarige vrou wreed vermoor
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’