Opvolg: Vrou wreed by kanaal vermoor

Audrey Ntombozuko (34) Foto verskaf

OUDTSHOORN NUUS - "Ek hoop ander vroue wat in huwelike en verhoudings mishandel word, gebruik my dogter se dood as 'n les om so gou moontlik daaruit dit te kom."
 
So sê Joyce Modikwe oor die wrede dood van haar dogter, Audrey Ntombozuko (34).
 
Ntombozuko het Saterdagaand 'n marteldood gesterf nadat sy verskeie kere met klippe en ander voorwerpe geslaan is. Haar liggaam is agterna in die kanaal naby haar woning gegooi.
 
Haar vriend van die afgelope nege jaar, André (Nhonho) Solomons, is dieselfde aand vir die wrede moord in hegtenis geneem.
 
Modikwe vertel dat Solomons haar dogter gereeld geslaan het en dat sy verskeie kere probeer het om uit die verhouding te kom.
 
"Hy was aggressief en het ruite by familie se huise, waar sy moontlik kon wees, uitgegooi en geskel tot sy uit vrees vir ons lewens na hom toe terug gegaan het. Ons het ook verskeie kere die polisie gebel, maar nie eens dit het gehelp," vertel sy.
 
Modikwe sê Ntombozuko was bang vir Solomons en het verskeie kere vir haar en die res van haar familie gesê hy gaan haar nog doodmaak.
 
"Nou het dit gebeur wat sy voorspel het."
 
Jacomiena Mlilo, Ntombozuko se buurvrou, sê Solomons het vroeg Saterdagaand begin om haar te slaan.
 
"Ons het gehoor hoe huil sy. Ons het al baie met haar gepraat om weg te kom uit die verhouding. Ons het ook met hom gepraat om op te hou om haar te slaan, maar hy het nie geluister nie. Saterdagaand het hy haar met klippe en ander voorwerpe in die huis geslaan. Hy het haar na 'n kraan toe gesleep en die bloed van haar afgewas. Ons vermoed dat sy toe alreeds sterwend was," vertel sy.
 
"Verskeie mense het hom probeer keer, maar Solomons was té aggressief. Hy het haar weer huis toe gesleep en geslaan. My man het uit desperaatheid haar familie gaan haal. Terwyl my man weg was het Nhonho vir Audrey in die pad verby ons almal se huise gesleep. Die paadjie was met haar bloed bevlek," vertel sy.
 
Volgens haar het 'n groepie mense wat ook daar woon saam met die familie die sleepmerke tot by die kanaal gevolg waar hulle Ntombozuko se liggaam in die kanaal gekry het.
 
"Hy het haar in die kanaal ingesleep en haar in die koue water gegooi. Sy het met die landing in die kanaal haar kop teen die beton baksteen wat daar gelê het gekap. Haar familie en ons het hom bo-op haar gevang. Hy het daarna weggehardloop," het sy vertel.
 
Modikwe sê die dag van haar kind se dood was een van die moeilikste dae van haar lewe.
 
"Ons het hom bo-op haar gekry. Ons het op hom begin skree en gevra wat hy met haar maak en hy het gesê dis sy vrou hy kan doen wat hy wil."
 
Modikwe sê dit was vir haar ongelooflik hoe die gemeenskap saam gewerk het om Solomons te vang.
 
"Die gemeenskap was die heeltyd daar en toe hy wou weg kom het hulle gehelp om hom te vang. Ek wil die gemeenskap sowel as die polisie en veral die ondersoekbeampte, ao. Wessels Bower, bedank vir wat hulle vir ons gedoen het."
 
Solomons het Dinsdag op aanklag van moord in 'n stampvol Oudtshoorn-landdroshof verskyn. Emosies het sigbaar hoog geloop en beide Ntombozuko en Solomons se familie was in die hof.
 
Landdros Lorraine Samuels het die saak tot 2 Mei vir 'n borgtogaansoek uitgestel.
 
Adv. Benito Metembo verskyn vir Solomons in opdrag van Duvenhage, Keyser en Jonck.
 
 
Die opslaanhut by die kanaal waar Audrey Ntombozuko en André Solomons gewoon het.  
 
 
Een van die klippe waarmee Audrey Ntombozuko vermoedelik geslaan is.
 
 
ARTIKEL & FOTO'S: LIEZL VAN NIEKERK, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS 
 
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus' 


Your Comments
Back to Top

Copyright 2017 Group Editors Co PTY Ltd t/a Oudtshoorn Courant