OUDTSHOORN NUUS - Die verhoor van die 37-jarige André Solomons, wat van moord op sy saamleefmaat sewe jaar gelede aangekla word, is in die streekhof na die getuienis van 'n buurman vir voortsetting tot 5 November uitgestel.
Solomons word daarvan aangekla dat hy op 15 April 2017 vir Audrey Ntombozuku vermoor het. Hulle was vir nege jaar in 'n verhouding.
Oudtshoorn Courant het sewe jaar gelede berig dat sy 'n marteldood gesterf het nadat sy oor 'n paar dae verskeie kere met klippe en ander voorwerpe geslaan is. Haar liggaam is agterna in die kanaal naby haar woning gegooi. Solomons, is dieselfde aand in hegtenis geneem.
Joyce Modikwe, Ntombozuku se ma, het vertel dat hy haar gereeld geslaan het. 'n Buurvrou het ook vertel hoe Solomons haar die hele naweek aangerand het en dat die bure probeer keer het, maar hy was te aggressief.
Die buurvrou het gesê dat hy haar later tot by die kanaal gesleep het en in die koue water gegooi het. Toe sy val het sy haar kop teen 'n betonblok gekap. Van die lede van die gemeenskap en haar familie het hom agternagesit en hom bo-op haar in die kanaal aangetref. Hy het toe weggehardloop. Solomons het onskuldig gepleit en ontken dat hy die betrokke aand by die kanaal was waar die liggaam van Ntombozuku gevind is.
Solomons se buurman, Richard Milo (42), het getuig dat hy omstreeks middernag 'n vrou hoor skreeu het en het agtergekom dat dit die oorledene was. Hy ken haar as "Nosi" en vir Solomons as "Nono".
Toe sy aanhou skree, het hy sy vrou gevra om te gaan kyk terwyl hy die oorledene se familie gaan roep het.
Met sy terugkeer het hy sleepmerke vanaf die beskuldigde se huis gesien en twee bebloede bakstene, een binne en een buite die huis, opgemerk.
'n Rukkie later het hy gesien hoe Solomons in die kanaal besig is om sy broek vas te maak. Familielede van die oorledene het toe klippe na hom gegooi.
Nadia Arnolds, het hom gevra of hy seker is oor Solomons se identiteit waarop hy geantwoord het: "Nono het met my gepraat en ek kon sy gesig 100% sien. Daar is ook spreiligte wat lig verskaf het."
Volgens Milo was hy op die toneel tot die polisie opgedaag het.
Die saak word deur streeklanddros Daniel Boks aangehoor. Solomons is op borgtog vrygelaat.
Vorige artikel
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’