OUDTSHOORN NUUS - Met reënval wat die afgelope jaar drasties laer is as die vorige jaar is dit vir boere noodsaaklik dat dit binnekort reën. Oudtshoorn Courant het met 'n aantal boere in verskillende areas gesels en hulle is dit almal eens dat landbou nog nie heeltemal herstel het van die vorige droogte van sewe jaar wat in 2023 gebreek is nie.
Laubscher Coetzee wat op die bestuur van Agri Wes-Kaap sowel as Agri SA dien, sê alhoewel die droogte in 2023 gebreek is en met goeie reën vroeg in 2024 opgevolg is, beteken dit glad nie dat daar "sommer 'n streep deur sewe maer jare getrek kan word nie". Dit word beaam deur Joey Potgieter, Weeber Truter en Boets Nel.
Truter sê daar is boere in die Kammanassiestreek wat groot hoeveelhede vee met die vorige droogte moes verkoop en nog nie weer heeltemal herstel het nie.
"Ons is nie deel van 'n waterskema nie en as dit nie reën nie, het ons nie water nie. Die veld en weiding in die Kammanassie is kurkdroog en as dit nie binne die volgende twee maande reën nie, gaan ons dit nie maak nie." Hy noem dat hy verlede jaar voer aangeplant het, maar met die droogte die afgelope aantal maande skaars 'n tiende daarvan kon oes.
Nel verduidelik dat wynboere in die Calitzdorp-omgewing soveel as 40% van hulle wingerde met die vorige droogte verloor het en in 2023 nuwe wingerdstokke moes plant.
"Stokke word geplant om vir 25 tot 30 jaar te produseer en mens breek eers teen die agste jaar gelyk. Ons oeste vir vanjaar lyk nog goed, want ons het genoeg water gehad, maar as ons nie hierdie seisoen goeie reën ontvang nie gaan dit geweldig nadelig vir ons nuwe wingerdstokke wees." Boere in die Calitzdorp-omgewing kry water uit die Gamkapoort- en Calitzdorpdam.
Coetzee en Potgieter se plase is deel van die besproeiingskema wat water uit die Stompdrift- en Kammanassiedam ontvang en volgens albei het boere wat deel is van die skema nog nie 'n krisis nie aangesien daar nog genoeg water is vir 'n loslating in Maart/April. Potgieter sê egter dat oeste soos lusern beslis laer sal wees. Volgens hom en Coetzee beleef boere, wie se grond nie in die waterksema lê nie, reeds groot waterkrisisse.
"Reënval tot dusver is dramaties minder as die vorige seisoen. Dit is duidelik sigbaar aan die veld. Groot dele noord van die Swartberge, sowel as suid van Outeniquaberge is geweldig droog en beroepe op droogtehulp uit beide streke is reeds van stapel gestuur," het Coetzee gesê.
Daar is bitter min wat gedoen kan word in droogtetye en van droogtehulp van regeringskant is daar volgens die boere weinig hulp.
"Droogtehulp aan kommersiële boere is uiters skraps en kom gewoonlik te laat. Daarom dat ons in georganiseerde landbou oor ons eie strukture beskik om ons boere in nood te help," sê Coetzee. Hy benadruk dat skenkers wat droogtehulp wil verleen van gevestigde strukture gebruik moet maak om te verseker dat die hulp die korrekte bestemming bereik.
Hy dien tans as voorsitter van Agri SA se droogtehulpfonds sowel as die Klein Karoo-droogtehulpfonds.
Mense wat bydraes wil maak en meer inligting wil bekom oor areas wat in nood is, kan Laubscher Coetzee by 082 898 5941 kontak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’