OUDTSHOORN NUUS - ’n Uitgebreide soektog is reeds meer as twee dae aan die gang nadat die 82-jarige Delia Visagie op Maandag 5 Januarie in Oudtshoorn as vermis aangemeld is. Visagie, wat aan Alzheimer se siekte ly, is Maandag omstreeks 14:00 by haar woning in Condorstraat gesien.
Volgens haar kleindogter, Edwinah Goulding, is daar steeds geen teken van haar nie. Lede van die Oudtshoorn-polisie, die Attaqua-honde-eenheid, buurtwaglede, Oudtshoorn Community Against Crime (OCAC) asook vrywilligers uit die gemeenskap is sedert Maandag intensief betrokke by die soektog.
“Die honde-eenheid en speurders help soek. Ons het Woensdagoggend weer met die soektog voort gegaan. Ons het ook flyers gemaak wat ons uitdeel en by winkels neersit. Ons hoop regtig dat ons haar veilig sal opspoor.”
’n Vriendin van Visagie het aangedui dat sy ’n inwoner van Dysselsdorp is en dat daar ’n moontlikheid bestaan dat sy saam met iemand ’n geleentheid gesoek het. Weens haar toestand kan sy verward voorkom.
Enigiemand met inligting oor haar moontlike bewegings word versoek om Edwinah Goulding by 073 798 1191 te kontak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’