LADISMITH NUUS - "Eer jou vader en jou moeder, sodat jou dae verleng mag word."
Volgens Paulina King, beter bekend as Auntie Paulien van Amalienstein, is dit 'n Bybelse opdrag mét 'n belofte.
Paulina het op 5 Desember 1925 op die nedersetting Amalienstein die lig gesien en het in Desember haar 100ste verjaarsdag saam met familie en vriende op die gasteplaas, Waterval, gevier.
Die feestelikheid was 'n gepaste huldeblyk aan 'n vrou wat vir dekades 'n steunpilaar in haar kerk en gemeenskap was.
Sy is op 23-jarige ouderdom met haar eerste eggenoot, Carl Mitas, getroud. Ná sy dood het sy op 17 Mei 1969 met Heinrich Gustav King, 'n opvoeder van Amalienstein, getrou. Saam het hulle 'n lewe van diens, waardes en betrokkenheid gebou.
Haar kinders beskryf haar as 'n nederige, toegewyde en standvastige vrou. As lidmaat van die Lutherse Kerk op Amalienstein het sy haarself ten volle aan kerkaktiwiteite toegewy en was sy veral bekend vir haar bydraes tydens basaars. Haar makataankonfyt, gemmerkoekies en gemmerbier was legendaries.
Haar jongste dogter, Audrey Witbooi, vertel met trots dat haar ma streng, maar regverdig was, en dat sy binne die gemeenskap met grasie die rolle van vredemaker, kerksuster en omgee-buurvrou vervul het.
Leona Willemse, haar derde oudste kind, sê sy het baie by haar ma geleer. "Sy het moeilike tye beleef, maar altyd sterker anderkant uitgekom," het sy gesê.
Een van die kleinkinders, Michelle Cairncross, voeg by dat sy vandag konfyt kook en kan bak, vaardighede wat sy by haar ouma geleêr het.
Die deftige viering wat haar kinders en kleinkinders vir haar gereël het, was 'n weerspieëling van die liefde en respek wat hulle vir haar koester.
Al sit Paulina vandag in 'n rolstoel, is haar geheue nog skerp, en selfs tydens die partytjie het sy met haar agterkleinkinders grappies gemaak.
Haar gehoor het wel verswak, maar haar gees bly sterk - 'n ware getuienis van 'n eeu se wysheid, liefde en geloof.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’