OUDTSHOORN NUUS - Die tragiese dood van Jermain en Caylin Coetzee het die gemeenskap van Oudtshoorn geruk.
Die egpaar wat in November 2022 getroud is, was beide provinsiale verkeersbeamptes in die Groter Oudtshoorn-gebied.
Die voorval het na bewering na ‘n onderonsie gebeur.
Medelye oorgedra
Lunny Spogter, Oudtshoorn se provinsiale verkeershoof, en die Wes-Kaapse minister van mobiliteit, Isaac Sileku, het albei hul medelye aan die families, vriende en kollegas van die oorledenes betuig tydens ‘n spesiale besoek aan die burgemeester van Oudtshoorn-munisipaliteit, Johan Allers, Dinsdag 30 Desember.
Volgens ‘n persverklaring het die burgemeester tydens die besoek sy medelye aan die families oorgedra. “Ons harte gaan uit na die families, vriende en kollegas van die oorledenes. Dit is ‘n verskriklike verlies wat diep wonde laat, nie net binne die verkeersdepartement nie, maar regoor die breër gemeenskap.”
Hulp vir kollegas
Mbulelo het die diep emosionele impak van die egpaar se afsterwe erken en gesê dat talle vrae steeds onbeantwoord bly.
Hy het Caylin beskryf as iemand wat die lewe ten volle aangegryp het en bekend was vir haar aansteeklike lag, lewenslus en positiewe gees. Jermaine is beskryf as ‘n innemende en toeganklike persoon wat altyd bereid was om na ander te luister.
Ten slotte het hy verseker dat personeel van die Wes-Kaapse departement van mobiliteit in Oudtshoorn die nodige traumaberading en emosionele ondersteuning sal ontvang.
Familie vra privaatheid
Jo-Ann Jones, verteenwoordiger vir die familie van wyle Caylin het in ‘n persverklaring op Facebook gevra dat die familie se privaatheid gerespeekteer moet word. “As familie van Caylin is ons platgeslaan deur die massiewe tragedie. Maandagmiddag het Jermaine vir Caylin vermoor met sy dienspistool. Sy is veelvuldige male geskiet en het mediese hulp op die toneel ontvang, maar het aan haar beserings beswyk. Jermaine is op slag dood.”
Vorige berig:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’