OUDTSHOORN NUUS - Sosiale media gons sedert die noodlottige skietvoorval Maandag 29 Desember waar Jermaine en Caylin Coetzee dood is. Die voorval het skok, hartseer en talle onbeantwoorde vrae in die gemeenskap gelaat.
Beide was provinsiale verkeers-beamptes in Oudtshoorn en geliefd onder familie, vriende, kollegas, asook die gemeenskap.
Leon Campher van Oudtshoorn Community Against Crime (OCAC) het sy skok uitgespreek en genoem dat die voorval die gemeenskap diep geruk het.
Agter die tragedie is twee families en twee kinders wat platgeslaan en stukkend is. Families wat nou die stukke moet optel en die traumatiese verlies moet verwerk.
Jones-familie
Die Jones-familie het gevra vir privaatheid. Jo-Anne Jones het in 'n persverklaring genoem dat die familie geruk is deur die tragedie. "Jermaine het vir Caylin vermoor met sy dienspistool. Sy is telkemale geskiet voordat hy die wapen op homself gerig het. Jermaine het onmiddellik gesterf, Caylin het mediese behandeling op die toneel ontvang, maar aan haar beserings beswyk."
Coetzee-familie
Oudtshoorn Courant het Dinsdag-middag, 6 Januarie, 'n onderhoud met Jermaine se ma, Brenda Coetzee, sy suster Jildre Kotze, en tannie Marchie Visser gevoer. Hulle onthou 'n netjiese, presiese, vriendelike en passievolle seun en broer.
"Ons het hulle Saterdagaand gesien, ons het niks opgemerk wat fout was nie. Ons weet nie wat gebeur het nie, en het baie vrae."
Buiten die skok en trauma van die voorval en die verlies van Jermaine en Caylin moet hulle nou saamleef met bespiegelinge, aantygings en dat hy 'n moordenaar is.
"Ons verstaan nie wat Jermaine tot die daad gedryf het nie, hy was 'n sagte mens met 'n groot hart wat nie gou kwaad geword het nie, hy kon enige plek inpas."
Brenda vertel dat hy hierdie jaar aan universiteit verder sou studeer.
"Hy was die topstudent by die verkeerskollege."
Jildre onthou sy liefde en passie vir duiwe, tuinmaak en kosmaak. "Hy was so netjies, elke naat was perfek gestryk. Hy was ook 'n goeie danser en terggees."
Sy noem dat hulle onthou sal word as 'n pragtige paartjie, met harte wat omgee en altyd vol liefde vir ander was. "Hierdie is egter 'n baie moeilike tyd vir ons as familie, en benodig ons privaatheid om te rou en alles te verwerk. Derhalwe ons versoek dat mense nie moet bespiegel nie, maar eerder bid vir hul kinders en familie. Ons spreek ons waardering uit teenoor almal wie in hierdie tyd vir ons bid en saam met ons die mooi in die lewe onthou."
Begrafnisse
- Die familie van Caylin het op Woensdag 7 Januarie 'n troosdiens vir haar in George gehou. Haar begrafnis vind plaas op Saterdag 10 Januarie in George.
- 'n Gedenkdiens word vandag, Donderdag 8 Januarie, om 11:00 in Bridgton Sekondêr se skoolsaal gehou.
- Familie van Jermaine hou Sondag 11 Januarie 'n troosdiens om 11:00 by die Bridgton UCC en vooraf om 10:00 by Gembsbokweg 1223.
Vorige berigte:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’