KLEIN KAROO NUUS - Die voortslepende droogte het daartoe gelei dat Calitzdorp vanjaar ten minste 35% minder appelkose gaan produseer.
Dieselfde geld vir wingerde, wat saam met appelkose van die belangrikste landbouprodukte in die gebied is.
"Ons verwag dat appelkoosproduksie met ten minste 35% gaan afneem vergeleke 2016 se oes," sê Boets Nel van De Krans.
Terselfdertyd het die twee grootste aankopers van appelkose hul pryse ook verlaag teenoor verlede jaar se pryse, wat 'n verlaging van meer as 40% in inkomste gaan veroorsaak.
Die meeste van die streek se appelkose word onder normale omstandighede ingemaak en uitgevoer.
Kleiner vrugte wat nie vir inmaak geskik is nie, word teen 'n heelwat laer prys vir versappingsdoeleindes verkoop.
Maar die droogte het sy tol geëis. "Ons het in Maart 2014 laas goeie reën gehad. Ons gemiddelde reënval is sowat 250 mm per jaar, maar in 2016 het dit net meer as 100 mm gereën, en in 2017 nog net ongeveer 50 mm."
Die dorp, en sowat 25% van die grond noord van die Gamkarivier kry water uit die Calitzdorpdam, wat tans 25% vol is. Hier was darem nog wel vanjaar besproeiingswater beskikbaar, alhoewel baie minder as in 'n normale jaar.
Die res van die Gamkariviervallei kry water uit die Gamkapoortdam, wat reeds sedert Maart 2016 leeg is weens geen noemenswaardige reën in die opvanggebied van die dam in die Groot-Karoo nie.
Dit is die tweede seisoen wat boere in die Gamkariviervallei nie kan plant nie (behalwe 'n paar boere wat toegang het tot kwynende ondergrondse water), en sowat 'n derde van die Gamkariviervallei se grond is reeds verkoop in die afgelope jaar.
Wingerdboere probeer hul wingerde red deur te suier tot 'n minimum aantal wingerdlote per stok, sodat die wingerd minder water nodig het om te oorleef.
"Ons het reeds 'n derde van die potensiële oes verwyder om ons wingerdstokke te probeer red en sal nog van ons potensiële oes moet verwyder as dit nie binnekort reën nie.
"Dit is ongelukkig baie duur om 'n wingerd te vervang, want dit kos ten minste R150 000 - R200 000 per hektaar en dan word die eerste oes eers oor drie tot vier jaar gelewer. Ons prioriteit is nou om die wingerdstokke ten alle koste te laat oorleef."
Appelkose kan nie so maklik uitgedun word nie omdat dit te arbeidsintensief is, en die bome is dus aan die volle impak van die droogte uitgelewer.
As gevolg daarvan is die vrugte vanjaar aansienlik kleiner as tydens 'n normale jaar.
Besoekers sal egter steeds kan appelkose, perskes en druiwe kom pluk by De Krans.
"Ons kon darem daarin slaag om een blok van elk van ons appelkose, perskes en Hanepootdruiwe meer besproeiingswater te gee as die res van die wingerde en boorde, sodat daar darem steeds vrugte sal wees om te pluk," sê hy.
ARTIKEL: TISHA STEYN, OUDTSHOORN COURANT KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'