Met verwysing na die afgelope DCAS / Highgate / Groter Oudtshoorn Interprovinsiale Tweekampbyeenkoms op 1 en 2 Februarie, haal ek my hoed af vir die eienaars en personeel van Highgate Volstruisplaas.
Soos almal seker weet, het 'n welkome reën met gepaardgaande donderbuie Oudtshoorn daardie Saterdag verras. Alhoewel die meer as 600 atlete, toeskouers en inwoners die reën verwelkom het, het dit ook groot logistieke uitdagings wat infrastruktuur insluit, vir die organiseerders gebring. En dis hier waar ek 'n pluimpie en groot waardering vir die eienaars van Highgate Volstruisplaas, Johan en Viljee Keller, vir Nellie Burger as funksie-organiseerder en al die werkers op Highgate, wil gee. Die hewige donderstorm het Highgate en Volmoed Saterdagmiddag getref en toe ek 16:30 op Highgate aankom om die finale reëlings vir ons oorhandigingsfunksie te koördineer, loop ek my vas in storm-chaos. Geen elektrisiteit, bome wat omgewaai het, water wat die saal oorspoel het, takke wat die hele terrein vol lê.
Dit waar die prysuitdeling om 19:00 moes plaasvind en waar amper 500 mense daarna moet braai. My moed het sommer in my skoene gesak en om 'n alternatiewe venue binne twee ure vir so 'n groot groep te vind was net nie moontlik nie. Op my woorde aan Viljee "Wat nou?' antwoord hy net kort "Ons gaan aan".
Al wat 'n werker op Highgate het met besems, kruiwaens en grawe ingespring en nodeloos om te sê, stiptelik om19:00 was ons gereed om voort te gaan. Hoe Nellie en haar kombuispersoneel nog steeds 'n vyfsterete aan die gaste voorgesit het, sal net sy weet. Ek dink bitter min venues sou dit kon hanteer en Eden Tweekamp wil hulde bring aan die ongelooflik hulpvaardige, vriendelike en omgee-mense op Highgate. Julle was eenvoudig net AWESOME!
Dave van der Walt