PRINS ALBERT NUUS - Die herstel van Meiringspoort ná die verwoestende vloede in Mei en Junie kan na verwagting sowat 26 maande duur, terwyl die voorlopige skade reeds op meer as R421 miljoen beraam word.
Intussen waarsku die Prins Albert-munisipaliteit dat inwoners, boere en besighede hulle vir ’n langdurige ontwrigting gereed moet maak.
Volgens ’n verklaring van die burgemeester van die Prins Albert, Linda Jaquet, het die onlangse vloed ongekende skade aan die padnetwerk in Meiringspoort aangerig.
Die skade is veroorsaak deur buitengewone hoë vloedvlakke, tesame met groot hoeveelhede dryfhout en boomstompe wat deur die rivier meegesleur is. Verskeie rotsstortings het die pad verder versper en beskadig.
Volgens die departement is drie dele van die pad heeltemal weggespoel. Op die mees beskadigde gedeeltes is die pad tot ongeveer 1,7 m diep oor lengtes van tussen 20 m en 25 m vernietig. Die ondersteuningsmure en padkante is ook weggespoel.
Drie fases vir herstelwerk
Jaquet verduidelik dat die herstelwerk in verskeie fases sal plaasvind.
Die eerste fase behels die verwydering van rommel en opruimingswerk, waarna ’n volledige strukturele assessering deur ’n ingenieur gedoen sal word. Eers nadat dié assessering voltooi is, kan ’n finale kosteberaming gemaak en permanente herstelwerk begin word.
Hoewel owerhede beoog om uiteindelik ’n tydelike enkelbaan met ’n stop-en-ry-stelsel in werking te stel, is daar nog geen aanduiding wanneer dit moontlik sal wees nie. Die pad sal dus vir ’n geruime tyd gesluit bly of slegs beperkte toegang bied.
Beskerm Meiringspoort se erfenis
’n Verdere uitdaging, volgens Jaquet, is dat Meiringspoort as ’n amptelike erfenispad beskerm word. Volgens die Wes-Kaapse departement van infrastruktuur moet die pad herstel word op ’n manier wat die oorspronklike historiese karakter behou.
Moderne herbelynings word nie toegelaat nie en streng omgewingsvereistes geld om die rivierekosisteem te beskerm. Hierdie wetlike en omgewingsvereistes beteken dat die herstelproses nie versnel kan word nie.
Jaquet sê die sluiting raak die daaglikse lewe van inwoners, boere en plaaslike ondernemings en doen ’n beroep op die publiek om geduldig te wees terwyl die komplekse herstelproses voortgaan.
Alternatiewe roetes is reeds geïdentifiseer en padgebruikers word versoek om dié roetes vir die duur van die sluiting te gebruik.
• Die tegniese inligting is deur die Wes-Kaapse departement van infrastruktuur aan die Prins Albert-munisipaliteit verskaf.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’