OUDTSHOORN NUUS - Inwoners van Welbedacht is ontsteld nadat ses honde die afgelope tyd onder verdagte omstandighede dood is.
Volgens Leon Campher, gemeenskapsleier is daar vermoedens dat van die honde vergiftig is, terwyl een glo in die been geskiet is.
“Ons vra dat ’n deeglike ondersoek gedoen word en dat die persoon wat hiervoor verantwoordelik is, aanspreeklik gehou word,” het Campher gesê.
Een van die inwoners, wat uit vrees vir viktimisasie verkies om anoniem te bly, beweer dat iemand in die omgewing die honde doelbewus doodmaak.
“My hond is geskiet, my seun se hond is aan sy ketting dood, en ons het verskeie honde dood aangetref,” het die inwoner gesê.
Volgens die inwoner was die Oudtshoorn-polisie op die toneel, maar speurders moet nog verklarings van al die eienaars van die betrokke honde afneem voordat formele klagtes gelê kan word.
Kapt. FC van Wyk, woordvoerder van die Wes-Kaapse polisie, het by navraag gesê die inligting waaroor die polisie tans beskik, dui daarop dat ’n boer in die Welbedacht-gebied skade gely het nadat 24 skape en 40 volstruise tydens verskeie voorvalle na bewering deur rondloperhonde doodgebyt is.
“Dit blyk dat rondloperhonde van ’n nabygeleë nedersetting deur ’n boer geskiet is. Geen saak met betrekking tot die honde is tot dusver geopen nie. Die boer het egter wel ’n saak geopen oor die verlies van sy skape en volstruise,” het Van Wyk gesê.
Die omstandighede rondom die dood van die honde word ondersoek.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’