OUDTSHOORN NUUS - Die Wes-Kaapse minister van infrastruktuur, Tertuis Simmers, het verlede Donderdag, 18 Junie, besoek aan Meiringspoort gebring. Hy het verskeie beskadigde gedeeltes in die poort besoek om hom van die omvang van die skade te vergewis.
Meiringspoort word as 'n prioriteitsroete beskou aangesien dit die hoofroete tussen die Karoo en die Klein-Karoo is. In reaksie op 'n navraag oor die minster se besoek het sy mediabeampte, Melt Botes, gesê die skade wat tydens die vloede in Mei aangerig is, is vergelykbaar met die vloed van 1996 toe herstelwerk twee jaar geduur het.
"Groot gedeeltes van die pad en infrastruktuur is beskadig en sommige dele is heeltemal weggespoel," het Botes gesê.
Volgens hom het spanne van die departement van infrastruktuur 'n voorlopige assessering van die skade gedoen en daar word bereken dat die herstelkoste R421 miljoen sal beloop en die volledige herstel en heropbou van die roete ongeveer 26 maande sal duur.
Tydens sy besoek het Simmers ook met die burgemeester van die Tuinroete-distriksmunisipaliteit, Marais Kruger, gepraat.
Volgens Kruger was een van die grootste bydraende faktore tot die skade in die poort die feit dat riviere nie instand gehou word nie.
"Terwyl die roete vir verkeer gesluit is, wil ek besigheidseienaars en padge-bruikers verseker dat ons tegniese spanne hard werk om dringend 'n volledige assessering te doen om te bepaal watter werkswyse gevolg moet word om hierdie belangrike pad so gou as moontlik vir verkeer oop te stel," het Simmers gesê.
Oudtshoorn Courant het 'n aantal weke gelede berig dat die herstelkoste van die skade wat in 1996 aangerig is ongeveer R80 miljoen beloop het. Tydens daardie herstelproses is dele van die pad tydelik herstel en verkeer kon gereguleerd deur die poort beweeg terwyl die permanente herstelwerk aan die gang was. Intussen is die alternatiewe roete vanaf die noorde na die Klein-Karoo deur Colesberg, Middelburg, Graaff-Reinet, Willowmore, De Rust en Oudtshoorn. Die roete is nie veel langer as die gewilde een vanaf Colesberg, deur Beaufort-Wes en Meiringspoort nie.
Lees ook:
Vloedskade: Premier Alan Winde gee terugvoer
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’