OUDTSHOORN NUUS - Benita Olivier en haar seun, Johann, het Woensdagaand, 17 Junie, feitlik al hul besittings verloor toe 'n brand hul woning in Langenhovenweg verwoes het.
Volgens Candice Biscombe, mediawoord-voerder van die Oudtshoorn-munisipaliteit, het die munisipaliteit se brandweerafdeling vroegaand op die voorval gereageer.
"Die brand het gedurende die aand by 'n woning uitgebreek. Die munisipaliteit wag steeds op die voltooiing van die amptelike verslag en die oorsaak van die brand is in hierdie stadium nog onbekend. Met die brandweer se aankoms op die toneel was 'n gedeelte van die dak reeds aan die brand en het die vlamme vinnig versprei. Omdat die brand hoofsaaklik in die dakstruktuur gewoed het, het die dak later ingegee, waarna die brand na die binnekant van die woning versprei het. Die brandweer het die brand suksesvol geblus en verhoed dat dit na aangrensende strukture versprei," het Biscombe gesê.
Olivier en haar seun was ten tyde van die brand nie tuis nie en het ongedeerd daarvan afgekom. Hul huis en persoonlike besittings, waaronder klere, meubels, beddegoed, huishoudelike items, belangrike dokumente en onvervangbare herinneringe, is egter deur die vlamme vernietig.
Volgens Johann wag hulle steeds op die finale verslag van die assessor. "Ons vermoed dat 'n kragstuwing moontlik 'n kortsluiting veroorsaak het, maar slegs die assessor sal die presiese oorsaak kan bepaal," het hy gesê. 'n Enorme groot verlies vir hulle is dat Maya, hul 10-jarige Staffie omgekom het in die brand, vermoedelik weens versmoring.
Leanda van den Berg, 'n voormalige kollega en vriendin van Benita, het intussen 'n BackaBuddy-veldtog van stapel gestuur om die gesin by te staan.
Skandeer die QR-kode vir die BackaBuddy-veldtog.
Fondse wat deur die veldtog ingesamel word, sal aangewend word vir basiese benodigdhede soos klere, skoene, beddegoed, kos, huishoudelike items, meubels en ander noodsaaklike uitgawes.
Die gemeenskap word versoek om die gesin te ondersteun. Volgens Van den Berg is geen bydrae te klein nie en kan mense wat nie finansieel kan bydra nie, die veldtog met familie, vriende en op sosiale media deel.
"Elke donasie, boodskap van onder-steuning en gebed word opreg waardeer en help om hoop te bring in 'n tyd van groot verlies en onsekerheid," het sy gesê. Johann noem ten slotte dat hulle ongelooflik dankbaar is vir die ondersteuning van die Oudtshoorn-gemeenskap.
Gaan na Help Benita en haar seun, op BackaBuddy om 'n bydrae te maak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’