OUDTSHOORN NUUS - Die omstandighede rondom die dood van Petrus Damon (32) word ondersoek nadat hy die afgelope naweek aan steekwonde beswyk het.
Intussen het die polisie ’n 19-jarige verdagte in verband met die moord in hegtenis geneem.
Volgens ao. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, ondersoek die Oudtshoorn-polisie ’n saak van moord ná ’n voorval wat op 19 Junie in Reggie Oliphantstraat in Oudtshoorn plaasgevind het.
“Die verdagte bly in aanhouding tot sy volgende verskyning in Oudtshoorn-landroshof op Donderdag 2 Julie vir ’n formele borgaansoek.”
Voorlopige inligting dui daarop dat Damon tydens die voorval steekwonde aan sy rug en hand opgedoen het.
Hy is na die naaste hospitaal vir mediese behandeling geneem, maar is die volgende oggend, 20 Junie, omstreeks 06:40 deur mediese personeel dood verklaar.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’