OUDTSHOORN NUUS - Die bekende en geliefde sakeman, Christo Theart van Theart Sementwerke, is op 28 Junie oorlede.
Sy dogter, Bianca Theart, sê dat haar pa vir dekades ’n bekende en gerespekteerde figuur in die Oudtshoorn-gemeenskap was.
“Vir baie inwoners was hy nie net die stigter en eienaar van Christo Theart Sementwerke, vandag bekend as Theart Sementwerke, wat hy meer as 30 jaar lank met trots bedryf het nie. Hy was ook ’n vriend, mentor en ’n man op wie mense altyd kon staatmaak.”
Sy sê vir sy familie was hy eenvoudig net ‘Pa’.
“Hy was bekend vir sy nederigheid, vriendelikheid en opregte belangstelling in mense. Hy het geen onderskeid tussen mense getref nie - nie op hul agtergrond, omstandighede of status nie. Hy het elkeen met dieselfde respek, waardigheid en deernis behandel. Wanneer iemand hulp nodig gehad het, was hy altyd bereid om by te staan sonder om enigiets terug te verwag. Hy het daarvan gehou om met mense te gesels, stories te vertel en saam te lag. Sy sagte geaardheid en groot hart het ’n blywende indruk op almal gemaak wat hom geken het,” sê Bianca.
Lees die volledige berig in die week se uitgawe van Oudtshoorn Courant
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’