OUDTSHOORN NUUS - Vinnige denke en koelkop-optrede het waarskynlik twee lewens gered toe 'n ligte vliegtuig Saterdagmiddag, 20 Junie, weens enjinprobleme 'n noodlanding op 'n plaas naby Kobus se Gat buite Oudtshoorn moes doen.
Die vlieënier, Tiaan Lennox, en sy passasier, Anuschka Grundling, het ongedeerd daarvan afgekom.
Die voorval het omstreeks 15:40 plaasgevind. Familie het hulle later by die ongelukstoneel kom haal en vir mediese ondersoeke na die Prins Albert-hospitaal geneem.
Die paartjie het vroeër die middag vanaf die Oudtshoorn-lughawe vertrek en was onderweg na Prins Albert toe die vliegtuig enjinprobleme ontwikkel het.
Volgens Lennox het die enjin tydens die vlug krag verloor, wat hom genoodsaak het om die vliegtuig sonder enjinkrag in 'n oop veld neer te sit.
Die vliegtuig is egter volgens Lennox afgeskryf.
VIDEO:
Die Suid-Afrikaanse Burgerlugvaartowerheid (SABLO) is tans besig met hul ondersoek.
Die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, adjudant-offisier Chris Spies, het die voorval bevestig en gesê dat Oudtshoorn-polisie nie 'n dossier geopen het nie.
Die Suid-Afrikaanse Burgerlug-vaartowerheid (SABLO) hanteer die ondersoek na die voorval," het Spies gesê.
Die oorsaak van die enjin-probleme sal deel vorm van die ondersoek deur die burgerlugvaartowerheid.
Oudtshoorn Courant het navrae aan die Suid-Afrikaanse Burgerlugvaartowerheid gerig, maar teen druktyd is nog geen terugvoer ontvang nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’