OUDTSHOORN NUUS - 'n Splinternuwe kortfilm, Skoolboelie, word tans in Oudtshoorn geskiet en 'n klomp plaaslike gesigte sal daarin te sien wees.
Skoolboelie kom uit die pen van Cedrick Africa, 'n bekende skrywer, wat binnekort sy derde boek op die rakke gaan hê.
Volgens hom is dit 'n kortverhaal uit sy nuutste boek.
"Terwyl ek aan die storie gewerk het, het ek gesien dat daar soveel meer potensiaal in die storie steek. Dit so relevant tot vandag. Ek het toe besluit het om 'n kortflim daarvan te maak."
Die storie
Skoolboelie handel oor 'n 14-jarige seun wat by die skool geboelie word. Hy het saam met sy ma en pa uit die Groot-Karoo na Oudtshoorn verhuis en wil nie regtig na 'n nuwe dorp toe verhuis het nie.
Hy is egter te bang om die storie met sy ma te deel omdat sy ma baie siek is. Die probleem is dat die boelie nie besef dat hy besig is om die seun seer te maak nie. Die boelie kom self uit 'n baie moeilike huishouding waar die pa aan skomfaan verslaaf is.
Die hoofrol van Shani Moos word deur die 14-jarige Thato Mbambe vertolk. Sy pa, Herrie word deur Leach van der Westhuizen gespeel en sy ma, Lisa, se rol word deur Zelda Arries gespeel.
Van links is Wessel van Heerden, Tanelle Welff-Dixon en Cedrick Africa
Die boelie, Ou Jan Januarie, word deur Jumain Bruintjies gespeel. Sy pa, Jaffie, se rol word deur Africa self vertolk en Africa se vrou, Sherom, vertolk die rol van Ma Trien, die boelie se ma.
Twee polisiebeamptes speel ook groot rolle in die storie. Sersant Niklaas Basson word deur Justin Fortuin vertolk en ao. Linda Beukes deur past. Tanelle Welff-Dixon.
Ousie Makkie, 'n vrou van die gemeenskap wat agterkom dat Shani geboelie word, word deur Yvonne Thomas gespeel. Mnr. Lategan, Shani se onderwyser, word deur Pat Blaauw vertolk.
Wat sê die akteurs
Africa sê wat vir hom lekker is, is hoe gemaklik die akteurs in die rolle inpas.
"Ek het nie die mense se agtergrond geken toe ek die rolle verdeel het nie. Hoe meer ons mekaar leer ken, hoe meer kom ons agter hoe baie hulle met hul karakters in gemeen het."
Fortuin sê die storie lê hom baie na aan die hart. "Ek is self op skool geboelie. Ons was so 'n groepie wat geboelie was. Ek is al oor die tweede verdieping van 'n skool se balkon gehang. Buitemuurse aktiwiteite was nie vir ons 'n opsie nie, want dit is wanneer hulle ons in hoekies vasgedruk het. Dit is dus vir my belangrik dat die storie die lig sien sodat mense kan sien wat die impak van boelie is. Die letsels is blywend en het tot op jou as volwasse persoon 'n impak."
Welff-Dixon sê boelies is oral en kom ook onder volwassenes voor.
"Boelie het soveel variëteite. As kind is ek verkrag. Dit is 'n vorm van boelie. As grootmens is ek deur ander grootmense geboelie. Die storie gaan nie net oor 'n kind wat geboelie word nie. Daar is soveel meer wat mense hieruit kan leer. Ek is so opgewonde om die boodskap na buite te kan uitdra en deel te wees van die projek.
Die verfilming
Africa sê hy het by Wessel van Heerden, 'n videograaf van George, wat reeds toekennings vir kortfilms ingepalm het, aangeklop en Van Heerden het onmiddellik ingestem om hom te help.
"Ek glo in die storie. Ek glo in dit is iets wat by mense moet uitkom. Ek het aangebied om dit gratis vir hom te doen. Ek sal ook die bemarking van die film behartig.
Die idee is om dit aan die Silwerskermfees, kykNET, Netflix en Showmax voor te lê, maar dalk miskien ook om 'n veldtog by skole oor boelies te doen en dit daar te gebruik."
Van Heerden sê die storie het hom geweldig geraak en hy hoop dat dit 'n verskil in iemand se lewe kan maak.
"Ons beoog om voor die einde van die jaar hiermee klaar te wees. Die film gaan ongeveer 'n halfuur lank wees."
'n Toneel uit Skoolboelie. Foto's: verskaf
Wessel van Heerden (voor) tydens die maak die film.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'