Martin stry heftig teen mense se persepsie van sy produktiwiteit en het selfs ‘n skildery gemaak met die titel "Almal dink ek is lui, maar God weet ek is net moeg".
Vir meer as tien jaar voer Martin ‘n kluisenaarsbestaan in die Bo-Kouga tussen berge, klowe en waterpoele sonder enige geriewe behalwe lopende rivierwater. Sy huis is uit modder en takke gebou, sy badkamer is die veld en sy kos kom soms uit die grond, soms saam met ‘n besoeker of ‘n argeoloog wat die grafte van die Khoi-mummies (die enigstes in die wêreld) op die buurplaas besoek.
Martin lewe die lewe teen sy eie pas, soms nog stadiger. Hy is al gehoor waar hy op ‘n Vrydag, na ‘n lang week van rus opmerk: "Is dit môre naweek? Jis ek’s so bly, die week was lank!"
Sy wegkruiplewe het reeds in die 80’s begin toe hy op ‘n pragtige stukkie wegsteekgrond in Clarens gebly het. Daar het hy nuuskieriges wat hom wou ontmoet, weggewys met: "Wie, Martin Wessels? Nee sorry, hy’s iewers in Suidwes besig met ‘n movie."
Maar toe, op ‘n dag, besef hy Clarens het oornag ontwikkel in ’n suidelike voorstad van Johannesburg waar yuppies met hul Jeeps en Mercs op sypaadjies parkeer en klingel-klingel met goud om hulle nekke van koffiewinkel na kunsgalery pronk en eksotiese koeke met ontwerpersvurkies eet, en toe vlug hy.
En hy koop ‘n paradys in die Kougaberge waarheen geen pad loop nie en waar Barnard Steyn, Joubertina se ewe kleurvolle dominee hom op ‘n trekker besoek en hom stuk-stuk by die gemeenskap betrek het. Om hulle vriendskap te probeer beskryf is onmoontlik. Dit is ‘n vriendskap gegrond op boeke, kuns, misterie, religie en totale afwesigheid van oordeel.
Martin is ‘n verwoede leser wat niks vergeet nie, het al wêreldwyd gereis en is ‘n lopende ensiklopedie van feite, mites en stories. Om met hom ‘n onderhoud te voer is egter ‘n absurde oefening, want enige poging tot ‘n gesprek wat nie natuurlik ontvou nie word begroet met antwoorde soos "Man hulle is almal ewe sleg, daar is nie een goeie een onder hulle almal nie". Dit in antwoord op ‘n vraag wie vir hom uitstaan as die beste kunstenaar in die land.
Om Martin te verstaan en sy lewe te probeer verstaan moet ‘n mens maar die Kouga instap, ‘n ordentlike voorraad wyn saamneem en vir vier dae om die vuur sit en daarop konsentreer om niks te doen nie, dan kom die "magic" uit, dan praat die Kouga en Martin se kuns met jou en dan besef jy wat dit beteken as iemand sê hulle leef van die hand na die mond en wil dit nooit anders hê nie.
Iemand het eendag vir hom gevra hoekom hy nie aansoek doen vir ‘n pensioen nie en al vermoed almal dat die blote inspanning om ‘n vorm in te vul hom afskrik, was sy verduideliking beter: "Wat! Weet jy hoe sleg word ‘n mens as jy eers ‘n pensioen kry?"
Van Martin se werke sal eersdaags in Oudtshoorn te sien wees. Hy het ingestem dat enkele van sy werke by Bottega Galery in Baron van Reedestraat uitgestal word.
"St Antonio in die woestyn." Een van Martin se vroeëre werke wat deur ‘n versamelaar gekoop is.
ARTIKEL EN FOTO'S: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS