OUDTSHOORN NUUS - Twee Oudtshoorniete se drome het waar geword na hulle genooi is om hul kuns in die AVA Gallery in Kaapstad uit te stal.
Denver Jansen (24) en Earlyn Cloud (32) is jong, opkomende kunstenaars wat van volgende week af hul debuutuitstalling gaan begin.
Jansen sê 'n vrou van die galery het hom tydens die 2016-KKNK van die ArtReach Program van die AVA Gallery vertel.
"Sy het gesê hulle wil jong kunstenaars help om hul talente te ontwikkel. Ek het toe met Earlyn gepraat en ons het in 2017 werksessies bygewoon waar ons die fynere detail van kuns geleer en geoefen het. Daarna het sy gesê ons het die geleentheid gekry om ons werke in die galery uit te stal."
Cloud sê dit was vir hom 'n groot eer om genooi te word.
"Ek teken al lankal, maar het op 'n stadium opgehou en meer op dans gefokus. Toe Denver my kontak oor die werksessies en uitstallings was ek so opgewonde. Dit is hardewerk en daar gaan baie ure in sketse in, maar dit voel fantasties om die finale werke te kyk en te weet jy het dit gedoen. Ek sien myself as 'n 'hiper-realistiese kunstenaar' en teken graag portrette van bekendes. Ek hou daarvan om te speel met die skaduwees, kontraste en uitdrukkings. 'n Man van die Kaap het my werk op Facebook gesien en wil my ook help om in die kunskringe te kom," vertel hy.
Jansen sê hy teken van kleintyd af en vir so iets genooi te word is "amper nog onwerklik".
"My groot passie is eintlik sterrekunde en ek sou graag 'n sterrekundige wou word. Daarom inkorporeer ek sterrestelsels in my kunswerke. Vir die uitstalling wat ons in Kaapstad gaan doen het ek op die tema 'water' gefokus. Die droogte wat die land op die stadium tref is 'n realiteit en mense moet leer om water te respekteer. Die eerste kunswerk het ek die waterdraer-sterrestelsel geteken. Dit vertel bietjie van myself. Ek is die waterdraer en bring die waterkrisis na die mense. Ek wil hê hulle moet weet wat hulle as mense kan verloor en ook wat hulle in die natuur gaan verloor as die water nie opgepas word nie. Ek het ook 'n kunswerk wat spesifiek oor Dag Zero gaan. Mense moet weet dat dié dag gekeer kan word as ons spaarsamig met water omgaan."
Jansen en Cloud sê dit is als te danke aan die mense in hul lewe dat hulle die geleentheid gekry het om hul passie uit te leef.
"Jerome Lambaatjeen en Erna Wagenaar het geweldig baie gehelp. Ek wil ook graag my familie, vriende en die onderwysers by my skole waar ek was dankie sê dat hulle my gehelp het en in my geglo het," sê Cloud.
Jansen sê hy is definitief dank aan sy ouers en familie verskuldig.
"Daar is so baie mense in my lewe wat my ondersteun en motiveer om my drome uit te leef en ek sal almal ewig dankbaar wees daarvoor."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'