Die vertoning wat by die SANW-ouditorium aangebied is het buikdansers van die Tuinroete en Klein-Karoo ingesluit en is deur Riana du Plessis van Oudtshoorn se Bellyrinas aangebied.
Die aand was 'n skouspel van kleur en 'n groot verskeidenheid buikdansstyle het die gehoor vermaak. Die danse is vergesel deur die kenmerkende geklingel van 'coin belts'. Die dansers van Bellyrinas het hul tuisdorp gestand gedoen toe hulle vir die eerste keer hier met uitrustings en waaiers van volstruisvere gedans het.
Voor die vertoning het vrywilligers verversings ten bate van VPG verkoop. Geskenke wat by VPG se werkswinkel deur gestremdes vervaardig word is ook te koop aangebied.
Carin le Roux, maatskaplike werker by VPG was Saterdagaand hoog in haar skik met die ondersteuning van die publiek en die welkome fondse wat vir die vereniging ingesamel is.
Die personeel van VPG het bontgestaan met reëlings vir Saterdagaand se Buikdansvertoning wat ten bate van gestremdes aangebied is. Van links is: Carin le Roux (maatskaplike werker) Lize Raal (admin), Bernice Engelbrecht (Roll in shop Bestuurder) en Eshida May (gemeenskapsontwikkeling en bemarking) Foto: Hannes Visser.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn | Klein-Karoo nuus'