OUDTSHOORN NUUS - Die Suidwestelike Distrikte (SWD) se o. 15-rugbyspan is as die kampioene van die 2026 Hollywood Foundation Iqhawe-week gekroon nadat hulle Grens (Border) Donderdag met 10 - 7 in die eindstryd by HTS Drostdy in Worcester geklop het.
Volgens SWD-spanbestuurder Berty Hendricks moes die span deur 'n sterk toernooi werk om hul plek in die eindstryd te verseker.
SWD het onder meer teen Griquas en WP meegeding voordat hulle Grens in die eindstryd aangepak het.
Die oorwinning het besondere betekenis vir SWD gehad, aangesien die eindstryd 'n herhaling was van verlede jaar se halfeindstryd, waarin Grens SWD uitgeskakel het.
"Hierdie keer was SWD beter voorbereid en het ons daarin geslaag om die bordjies te verhang," het Hendricks gesê.
Die oorwinning beteken ook dat SWD die Iqhawe-trofee vir die eerste keer sedert 2016, ná 'n dekade, gewen het.
Vier spelers uit die Klein-Karoo was deel van die kampioenspan. Enzo Jansen en Juvandré Moos van Hoërskool Môrester, asook M.J. Mei van Hoërskool Protea in Oudtshoorn, het SWD verteenwoordig. Jandre Daniëls van Hoërskool Ladismith was ook deel van die span.
Die ander afrigters was Adrian Booysen, Mervin Prins en Reeze Daniels.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’