DYSSELSDORP NUUS - Dysselsdorp Rangers se eerstespan het White Roses van Uniondale Saterdag op die Dysselsdorp-sportterrein met 36-5 gewen nadat hulle rustyd met 7-5 voorgeloop het.
Dit was die tuisspan se sewende bonuspuntoorwinning van die seisoen.
Dysselsdorp het eers in die tweede helfte behoorlik vlam gevat en 29 punte aangeteken.
Die span se vyf drieë is gedruk deur Donnie Makonie (senter), Ben Gertse (vleuel), Eric Campher (agtsteman) en Shawandré Lewis (skrumskakel),
Die heelagter, Davestin Esau, het drie drieë verdoel en ook met 'n strafdoel geslaag. Makonie het ook 'n drie verdoel.
Die drie van Lewis dien ekstra vermelding sê die span se afrigter, Arnold Claassen.
"Hy het vanuit vastespel binne sy kwartgebied met 'n kort skoppie begin, dit opgevolg en weer 'n kort skoppie geloods om onder die pale te gaan druk. Dit het die skare soos verlede week, in vervoering gehad. Hierdie speler moet beslis in die toekoms dopgehou word," sê Claassen.
Uitblinkers agterlangs, was Makonie, Lewis en die loskakel Jason Jantjies. Voorlangs het Eric Campher en Cheslin Saptou (slot) ook harde werk verrig.
Rangers B het White Roses B in 'n vriendskaplike wedstryd met 34-7 kafgedraf. Die wenspan het ses drieë gedruk.
Hulle is ook die nuwe voorlopers in die B afdeling.
Freek Oktober (slot), D Antonie (losskakel), Darryl De Villiers (agtsteman), Jerome Ayford (senter) en Rowen Ewerts (slot) het die span se drieë aangeteken.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'