SUID-KAAP NUUS - Na 'n beskeie begin as deel van die Oudtshoorn Atletiek Vakansiebyeenkoms, het die straatmyl-idee gegroei tot 'n straatmyl-reeks wat gedurende die Desember-vakansie in drie wedlope in drie Eden-dorpe aangebied word.
Die afgelope twee jaar het die fietsry-komponent bygekom en 'n nuwe kleur aan die reeks gegee. Dit word hierdie jaar verder uitgebrei met 'n kermesse by die NMU-wedloop by die George-kampus.
Vanjaar word ook spesiale gemeenskapsprojekte op sekere strande aangebied om die algemene vakansiepubliek te betrek. Vir die eerste keer word medaljes toegeken - en dit saam met 'n prysgeldbeurs van R80 000 gaan die top 1 500/myl-atlete beslis na die Eden-distrik stroom.
Die uniekheid van hierdie reeks lê reeds in die feit dat elke dorp sy unieke straatmyl-identiteit behou, maar tog deel vorm van die reeks deur dat die Grand Prix-wenner oor al drie byeenkomste bepaal word.
Die eerste been word op Oudtshoorn aangebied en staan bekend as die BestMed Klein-Karoo-straatmyl. Dit vind op 16 Desember in Baron van Reedestraat plaas.
Die tweede been vind op die NMU George-kampus plaas op 18 Desember en staan bekend as die Bestmed Madibaz-straatmyl.
Die derde been vind op 20 Desember by die ATKV-terrein op Hartenbos plaas en staan bekend as die BestMed-ATKV-straatmyl.
Group Editors Co (Pty) Ltd is die mediaborg van die reeks. Inskrywings word aanlyn gedoen en sal binnekort oop wees. Besoek www.edenmiles.co.za.
Vir enige navrae kontak die organiseerders deur www.edenmiles.co.za of Dave van der Walt by 082 773 4901.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'