OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn Rotariërklub hou jaarliks 'n Kersprojek waar sogenaamde Krismisbokse en handgemaakte speelgoed aan honderde minderbevoorregte kleuters in die Oudtshoorn-omgewing uitgedeel word.
Hierdie jaar sal ongeveer 250 Krismisbokse en 750 gebreide of gehekelde beertjies in die eerste week in Desember baie kinderhartjies bly maak.
Die beertjieprojek het in 2020 begin, en die Rotariërklub skenk die wol en stopsel.
Ongeveer 30 vroue in die Oudtshoorn-gemeenskap hekel en brei regdeur die jaar saam, met vlytige vingers en groot ywer, om hierdie beertjies te maak.
Hulle het ook gedurende die winter ongeveer 400 mussies gebrei en gehekel, wat ook aan kleuters in die omgewing uitgedeel is.
Die 2027-afsluiting van die projek is op 24 November by die Oudtshoorn Rotariër Oord gevier, en altesaam 750 beertjies is ingesamel.
Die vrouens het saam gekuier en almal se handewerk bewonder.
Hierdie projek bring nie net jaarliks vreugde aan die kinders nie, maar skep ook 'n sosiale geleentheid waar die vrouens gereeld saam kuier en werk.
![]() | ![]() | ![]() |
Lezelma Pretorius van die Oudtshoorn Rotariërklub sê dat dit vir baie van die dames, veral die oueres, afleiding bied en hulle 'n doel gee om op te fokus, en dit is verblydend dat hulle kan weet hul handewerk beteken iets vir minderbevoorregte kinders.
Doreen Coetzee het hierdie jaar 80 beertjies gemaak, en Susara Barnard 50 beertjies en 50 mussies.
• Enige persoon wat by die projek wil aansluit, kan Lezelma Pretorius gerus by 084 582 3514 skakel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’


