OUDTSHOORN SPORT NUUS - Die Oudtshoorn Modern Pentathlon Association het Sondag by die NA Smit-swembad 'n driekamp-byeenkoms aangebied.
Atlete vanaf Mosselbaai, George en Oudtshoorn het deelgeneem aan die drie fasette van die wedloop wat laserskiet, swem en hardloop ingesluit het.
Die verskillende afstande in dié drie kategorieë wat die deelnemers moes aflê het afhang van die ouderdomsgroepe waarin hulle ingedeel was.
Atlete van alle ouderdomme het deelgeneem.
Vanjaar se jongste atleet was 10 jaar oud, terwyl die oudste atleet 62 jaar oud was. Alhoewel dit 'n baie warm dag was, het almal die wedren terdeë geniet, veral die swemafdeling na 'n uitputtende hardloopsessie.
Oudtshoorn-atlete wat deelgeneem het was Green Groenewald, Linelle Groenewald, Leslie Abrahams (oudste deelnemer) en Bart Saaiman.
Die volgende byeenkoms sal op 17 Februarie by die NA Smit-swembad plaasvind. Alle belangstellendes is welkom om die byeenkoms by te woon.
Vir meer inligting omtrent dié sport kan u gerus die webtuiste www.edenmpa.co.za of hul Facebook-blad (Pentathlon Association Biathle) besoek.