OUDTSHOORN NUUS - Opwindende krieket word môre, 4 Augustus, verwag wanneer die halfeindstryde in vanjaar se OPL T20-vlakkiekriekettoernooi van Rainbow Development Projects (RDP) beslis sal word.
Die halfeindstryde begin om 14:00.
Die voorlopers op die punteleer, Tornadoes (22) pak Legends op Hunters Park in Dassieweg terwyl die naasvoorloper, Hungry Lions (19) op die veld neffens die Toekomsrus-kliniek vir ProStars die stryd aansê.
In die laaste twee kwarteindstryde verlede Sondag het ProStars vir Hunters en Legends vir Teamplayers uitgeskakel.
Hunters het teen ProStars eerste gekolf en is in die 15de boulbeurt vir 'n skamele 47 lopies uitgehaal.
ProStars het net 12 boulbeurte nodig gehad om die wenteiken te bereik. Dillon Nuys, met ses paaltjies en Gavindhino Pietersen met vier paaltjies, was ProStars se twee groot uitblinkers met die bal vir 'n oorwinning met agt paaltjies.
In die wedstryd tussen Legends en Teamplayers het eersgenoemde eerste gekolf en in sy 20 boulbeurte 131/7 aangeteken. Teamplayers is hierna beperk tot 115/8 wat aan Legends 'n oorwinning met 16 lopies besorg het.
Vir die wenspan was Oswald Agulhas die groot uitblinker deur 58 lopies aan te teken en vyf paaltjies plat te trek.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’