OUDTSHOORN NUUS - Ottniel Baartman het verlede Donderdag sy mede-Oudtsthoorniete laat bars van trots met 'n droom-debuutwedstryd vir die Proteas se T20-span. Baartman, 'n voormalige SWD-krieketspeler, is onlangs in die Proteas se wêreldbekergroep van 15 spelers opgeneem wat vanaf 1 to 29 Junie in die Wes-Indiese eilande in Amerika sal meeding.
Die Proteas het verlede week 'n reeks van drie T20-wedstryde teen die Wes-Indiërs in Jamaika (Sabina Park) gespeel, en ofskoon die besoekers al drie wedstryde verloor het, was dit Baartman wat behoorlik beïndruk het.
In die eerste en enigste wedstryd wat Baartman in aksie was, het hy drie paaltjies vir slegs 26 lopies in sy vier toegelate boulbeurte afgestaan. Sy drie slagoffers was die verwoestende aanvangskolwer, Johnson Charles, Matthew Forde en Akea Hossein.
Die einste Johnson wat Baartman spotgoedkoop vir een lopie uitgehaal het, was in die laaste wedstryd toe Baartman nie gespeel het nie, onkeerbaar en het 'n blitsige 69 lopies van slegs 26 lopies afgeblits wat 9 grenshoue en vyf monster sesse ingesluit het.
Dit was veral Baartman se streep, knuckle en off cutter-balle wat goud werd was teen die einde van Wes-Indië se kolfbeurt.
Wat sy vertoning so waardevol maak, is dat dit juis in hierdie tydperk is dat kolwers genadeloos onder boulers inklim. Baartman het met sy vertoning gewys dat sy naam een van die eerste behoort wat op die finale spanlys vir die wêreldbeker moet wees, veral omdat dit blyk dat die Karibiese - speeltoestande hom soos 'n handskoen pas. Sy onlangs SA20 en Indiese Premierliga - ervaring (IPL) sal ook in sy guns te tel.
Besering
Baartman het in sy tweede boulbeurt gedurende sy boulaanloop sleg getrap en vir 'n wyle, menige van sy aanhangers bekommerd gehad dat hy dalk 'n ontydige, ernstige enkelbesering opgedoen het kort voor sy oomblik van wêreldbekerglorie. Hy is onmiddellik deur die Proteas se mediese-span ondersoek en het 'n paar minute daarna, die wedstryd sonder enige opmerklike ongemak voltooi.
Alhoewel hy wyd en syd geprys is vir sy sterk vertoning, het Baartman nie weer in die reeks van drie wedstryde gespeel nie - waarskynlik 'n wyse besluit van Krieket Suid-Afrika se afrigtingskorps om Baartman as voorkoming, in watte toe te draai vir die aanvang van die wêreldbeker.
Wes-Indië het in hierdie wedstryd uiteindelik 175 lopies vir die verlies van agt paaltjies in hul 20 boulbeurte gemoker waarna die Proteas vir 147 lopies almal uitgehaal is met een bal van die wedstryd oor.
Proteas T20 -wêreldbekergroep
Aiden Markram (kaptein), Ottniel Baartman, Gerald Coetzee, Quinton de Kock, Bjorn Fortuin, Reeza Hendricks, Marco Jansen, Heinrich Klaasen, Keshav Maharaj, David Miller, Anrich Nortje, Kagiso Rabada, Ryan Rickelton, Tabraiz Shamsi en Tristan Stubbs.
So lyk die Proteas se wedstrydskedule vir die wêreldbeker:
- Proteas teen Sri Lanka - Maandag 3 Junie (16:30)
- Proteas teen Nederland - Saterdag 8 Junie (16:30)
- Proteas teen Bangladesh - Maandag 10 Junie (16:30)
- Proteas teen Nepal - Saterdag 15 Junie (01:30)
- Die uitspeelwedstryde begin vanaf 19 Junie waarna die eindstryd op 29 Junie gespeel sal word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’