OUDTSHOORN KRIEKETNUUS - Oudtshoorn se plaaslike uitvoerproduk en huidige Dolphins-krieketspeler, Ottniel Baartman, het verlede Saterdag opnuut bewys waarom keurders van Krieket-Suid-Afrika hom onlangs nader getrek het vir die nasionale toergroep wat onlangs in Pakistan gespeel het.
Baartman moes toe weens mediese redes ontrek en indien nie, was die kanse redelik groot dat hy saam met nog 'n Oudtshoorniet, Glenton Stuurman, sy debuut sou maak.
Hoe dit ook al sy, Baartman het nie gaan lê na die terugslag nie en Saterdag sy boulvaardighede in die Betway T20 challenge se halfeindstryd teen die Titans span in die doodsnikke van die wedstryd, weereens ten toon gestel.
Met 22 lopies van ses balle om in die Dolphins se laaste boulbeurt aan te teken en Heinrich Klaasen (Protea T20-kaptein), onoorwonne op 29 van 14 balle (4x4; 1x6), het dit na enige iemand se wedstryd gelyk.
Die eerste bal van die laaste boulbeurt van Ottneil Baartman is vir 'n sierlike ses deur Grant Thomson gemoker.
Gevaarligte het toe reeds begin flikker, maar met die tweede bal kon Baartman daarin slaag om sy man met die volgende bal uit te hardloop tot groot verligting van sy spanmaats.
Twee lopies het toe van die derde bal gekom, maar die vierde bal het uit Baartman se hand gegly en vir vyf lopies na die grens afgevlieg. Dit het meegebring dat die Titans nou met nege lopies nagelaat is om van drie balle aan te teken van Baartman se boulwerk; iets wat in T20 baie realisties is.
Klaasen het toe 'n flater begaan en besluit om 'n enkellopie van die freehit te hardloop wat veroorsaak het Baartman twee balle sonder lopies na die nuwe kolwer, Lizaad Williams, geboul het wat 'n dramatiese oorwinning aan die Dolphins besorg het.
'n Topklasvertoning waardig vir 'n speler wat die juk van Oudtshoorn op sy skouers dra om binnekort sy lang verwagte Proteadebuut te maak.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'