Gallery
SKOLE NUUS - Van blitsige naellope tot indrukwekkende afstande in die velditems. Die Easycare Kwagga Top 10-atletiekbyeenkoms het Saterdag 10 Oktober met uitsonderlike vertonings deur van Suid-Afrika se beste hoërskoolatlete op die Rosemoor-stadion in George afgesluit.
Altesaam 52 hoërskole van regoor die land was vir die tweede dag van die byeenkoms verteenwoordig, met verskeie atlete wat uitstaande prestasies op die baan en veld gelewer het.
Van die grootste uitblinkers was Jaco van Dyk (MPK_G), wat die seuns o.16-gewigstoot met 'n indrukwekkende afstand van 19,77 m gewen het.
Joshua Gerber (MPK_G) was ewe indrukwekkend in die seuns o.17-diskus, waar hy die skyf 62,69 m ver laat trek het.
Op die baan het Jordan Sydon (PRG_A) uitgeblink met twee oorwinnings in die seuns o.14-afdeling. Hy het die 100 m in 10,86 sekondes gewen en daarna die 100 m-hekkies in 12,63 sekondes afgelê.
Mia Janse van Noordwyk (GHS_A) het ook 'n uitmuntende byeenkoms beleef. Sy het die dogters o.14 se 90 m-hekkies in 12,75 sekondes gewen. Sy het ook die 300 m-hekkies in 44,19 sekondes en die verspring met 'n afstand van 5,61 m gewen.
Nog 'n uitstaande veldprestasie was Lihan Lategan van Hoër Landbouskool Oakdale, wat die seuns o.15-spiesgooi met 'n indrukwekkende afstand van 68,88 m gewen het.
Lincoln Kunneke (DFM) het op sy beurt die seuns o.17-hamergooi met 'n afstand van 67,80 m gewen, terwyl Tatyana Viljoen van Hoërskool Outeniqua die dogters o.16-paalverspring met 'n hoogte van 3,60 m ingepalm het.
Plaaslike atlete laat hul merk
Hoërskool Outeniqua se atlete het hul staal gewys en verskeie eerste plekke ingepalm.
Marco Lesch het die seuns o.17 se 400 m-hekkies in 'n puik tyd van 52,30 sekondes gewen. Hy was ook derde in die 200 m met 'n tyd van 21,72 sekondes.
Ray-Jordan Schoeman het die o.17-seuns se 110 m-hekkies in 13,52 sekondes gewen en ook vierde in die 100 m geëindig met 'n tyd van 10,47 sekondes.
Megan Botha het die dogters o.14 se 100 m in 12,03 sekondes gewen en derde in die 200 m geëindig met 'n tyd van 25,56 sekondes.
Megan Stahmer het twee oorwinnings in die dogters o.16-afdeling behaal. Sy het die 100 m in 12,23 sekondes en die 200 m in 25,41 sekondes gewen.
Leané Koen het ook uitgeblink met 'n wenafstand van 40,37 m in die dogters o.15-spiesgooi. Sy het boonop tweede in die diskus geëindig met 'n afstand van 38,37 m.
In die velditems het Curtwinn Olivier die seuns o.15-verspring met 'n afstand van 6,69 m gewen, terwyl Miike Scholtz die dogters o.17-diskus met 'n afstand van 37,69 m ingepalm het.
Outeniqua het boonop die eerste twee plekke in die seuns o.14-hamergooi ingeneem. Dean Mac Donald het met 47,67 m gewen en Gideon Boshoff was tweede met 43,82 m.
Chamonix van der Merwe het die dogters o.16-hamergooi met 'n afstand van 44,28 m gewen, terwyl Jac du Plessis twee naaswennerplekke in die seuns o.17-middelafstanditems behaal het. Hy het die 800 m in 1:54,72 en die 1 500 m in 3:54,72 voltooi.
Zach Olivier van Hoër Landbouskool Oakdale het die seuns o.16-spiesgooi met 'n afstand van 54,25 m gewen, terwyl Juann Muller die seuns o.15-hamergooi met 55,35 m ingepalm het.
Die byeenkoms het ook besonder spannende wedlope opgelewer. In die seuns o.16 se 1 500 m het Johanaid George en Alex van der Westhuizen albei in 4:02,85 klaargemaak, met Luciano Louw net twee honderdstes van 'n sekonde agter hulle in 4:02,87.
In die seuns o.17 se 100 m het Micah Africa die wenstreep in 'n blitsige 10,27 sekondes oorgesteek, gevolg deur Dwayne Kammies in 10,34 sekondes en Lezario Meyer in 10,40 sekondes.
Die Easycare Kwagga Top 10 het oor twee dae sowat 1 500 atlete van 77 laer- en hoërskole na George gelok en die Rosemoor-stadion in 'n miernes van atletiekaksie omskep.
Kwaggas se Sammy de Kock spring uit die blokke. Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’