OUDTSHOORN NUUS - Geskiedenis is Woensdag 15 Januarie gemaak met die amptelike opening van vyf nuwe inklusiewe onderwysklasse in Dysselsdorp. Die opening van die klasse sal nou kwaliteit onderrig verseker vir kinders wat gespesialiseerde aandag nodig het.
Hierdie kinders is kinders wat outisme, fetale alkoholsindroom, asook ander agterstande het.
Ongeveer 100 leerders met spesiale behoeftes van Dysselsdorp sal voordeel trek deurdat hulle nou kan spog met hul eie klaskamers. Die onderwysers in die klasse is ook opgelei om die nodige aandag aan die leerders te kan gee en toe te sien hul kry die beste skoolopleiding moontlik.
Volgens Carin Herbst, hoof leerder-ondersteuning en gespesialiseerde leerder- en opvoedingondersteuning vir die Eden en Sentraal-Karoo onderwysdistrik, gaan die leerders nou die geleentheid kry om die DCAPS-kurrikulum te doen met 'n groot fokus op vaardighede.
"Die inisiatief maak dit vir die leerders moontlik om steeds in hulle gemeenskap te bly, maar toegang te kry tot gespesialiseerde onderwys."
Die droom om die spesiale klasse op die been te kry het baie beplanning en harde werk gekos. Dysselsdorp Primêr het nou drie klasse vir leerders met spesiale behoeftes terwyl PJ Badênhorst een klas gekry het en Dysselsdorp Sekondêr ook een klas.
Die toevoeging tot die drie skole beteken ook dat leerders nou van gr. 1 tot gr. 12 kan skoolgaan terwyl hulle toegerus word met die nodige vaardighede om na skool 'n loopbaan te kan volg.
Voordele vir leerders
Herbst verduidelik dat die inklusiewe klasse die volgende voordele inhou: "Verhoogde selfvertroue: deur in 'n inklusiewe klas te wees, kry die leerders die geleentheid om in 'n minder gestigmatiseerde omgewing te leer en te presteer, wat hul selfvertroue en selfwaarde kan versterk."
Sy gaan voort deur te noem dat leerders met spesiale behoeftes kan vanmekaar kan leer, wat hulle help om kognitiewe en emosionele vaardighede te ontwikkel. Dit sluit individuele ondersteuning in.
"Onderwysers in 'n inklusiewe klas het dikwels toegang tot afsonderlike hulpbronne of ondersteuning om leerders se individuele behoeftes beter aan te spreek. Ons inklusiewe onderwysspan en Eljada Kairos Skool bied baie ondersteuning en opleiding vir die opvoeders en assistente."
Ten slotte noem sy dat inklusiewe onderwys verseker dat alle leerders, ongeag hul uitdaging, die geleenthede kry om dieselfde onderrig en leerervaringe as ander te ontvang.
"Vorming van empatie en begrip: Ander leerders kan empatie en begrip vir verskille ontwikkel, wat belangrik is vir die bevordering van diversiteit en insluiting in die samelewing. Spesiale onderwys in 'n inklusiewe klas kan leerders help om op hul eie pas te leer en akademies te vorder. Hierdie benadering bevorder die idee van gelykheid en help alle leerders om in 'n ondersteunende omgewing te floreer."
Al die skole, hoofde en opvoeders is dankbaar en opgewonde oor die geleentheid aldus Herbst.
Die dag is ook bygewoon deur bestuur en personeel van die Wes-Kaapse departement van onderwys onder andere Jewel Jonkers, ECK distriksdirekteur.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’