Update
OUDTSHOORN NUUS - Twee dae na Natasha Stuurman, een van die ses verdagtes in die Preston Titus-moordsaak, op borgtog vrygelaat is, het die polisie daarin geslaag om Masimthembe (MJ) January Woensdagaand in hegtenis te neem.
MJ word reeds 'n geruime tyd deur die polisie in verband met die Titus-moordsaak gesoek.
Hy is Woensdagaand deur die polisie in Port Elizabeth in hegtenis geneem en het gisteroggend sy eerste verskyning in die Oudtshoorn-landdroshof gehad.
Die saak is egter na vandag (Vrydag) uitgestel omdat daar nie 'n regshulpprokureur beskikbaar was nie. Staatsaanklaer Leonie van Rooyen het ook gevra dat MJ na die tronk in George verskuif moet word, omdat hy vir sy lewe vrees.
Daar word beweer dat MJ die persoon is wat die beweerde huurmoordenaars, Justice Mooi, wat reeds borgtog geweier is, en Vusumsi, wat nog soek is, aan Magdaleen Titus voorgestel het.
Titus is na bewering die meesterbrein agter die moord op haar man, Preston. Sy is ook reeds in Februarie borgtog geweier.
Die Oudtshoorn Courant het in Februarie berig dat MJ by hul kantoor opgedaag het om sy storie te deel. Hy sou homself die volgende dag aan die polisie oorgee, maar was sedertdien 'n voortvlugtige.
Tydens sy besoek aan die koerant het hy gesê hy is bewus van die beweringe dat hy Mooi en Vusumsi aan Titus voorgestel het, maar hy het dit ontken.
Hy het ook erken dat hy en Titus vir ongeveer 'n maand lank in 'n liefdesverhouding was.
Volgens hom het Titus vir Mooi in 'n kroeg in Port Elizabeth ontmoet.
"Ek het hulle aanmekaar voorgestel, maar nie gesê Justice sal die moord vir haar kan pleeg nie. Hulle het politiek begin gesels en ek het toe geloop."
Hy beweer dat hy eers van die moord uitgevind het na hulle na Oudtshoorn teruggekeer het. Sixabiso Klip, die verdagte wat reeds gevonnis is, het hom van die planne om Preston te vermoor vertel.
MJ het ook aan die Oudtshoorn Courant vertel dat hy vir sy lewe vrees omdat Titus hom glo voor en na die moord gedreig het.
Lees vorige artikels:
- Weermagmoord: Natasha Stuurman kry borg
- Stuurman doen aansoek om borg
- Weermagmoord: Natasha Stuurman-borgtogaansoek vandag
- Weermagmoord: Borgtog geweier
- Weermagmoord: Geen borg vir Magdaleen Titus
- Opvolg: Magdaleen Titus-borgtogaansoek
- Borgtogaansoek steeds aan die gang
- Weermagmoord: Gerugte oor arrestasie onwaar
- Polisgeld dalk moordmotief
- ANC skors Magdaleen Titus tydelik
- Opvolg: Magdaleen Titus-borgtogaansoek
- Weermagmoord: Borgtogaansoek duur voort
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'